'n DRAMA WAT TOE NIE WAS NIE
Voor
die dae van die 4 provinsiale streeksrade vir uitvoerende kunste,
SUKOVS, TRUK, NAPAC en KRUIK, was die professionele akteurs, ens maar
oorgelewer aan hulle eie inisiatief om 'n bestaan te maak en die
plattelandse publiek te vermaak.
Min-of-meer
3 keer per jaar het een of ander toergeselskap die plattelandse dorpies
besoek en 'n opvoering aangebied in die stadsaal. Hierdie opvoerings
was uiters gewild onder die dorpies se inwoners en omgewing se boere.
Die
toergeselskap het sy eie "props" en toerusting saamgery en hulle eie
stukke geskryf om op te voer. Klankstelsels was ongehoord en die akteurs
en aktrises moes baie hard praat om hoorbaar te wees in die sale wat
nie met akoestiese eienskappe in gedagte ontwerp was nie. Dit was nogal
OK want dit het 'n baie spesiale atmosfeer en karakter aan die
opvoerings gegee.
Dis
waar ek in die Winburgse stadsaal die eerste keer vir Al Debbo in
lewende lywe gesien het. (Nadat hy blykbaar die hele middag in die Fords
Hotel se kroeg saam met manne gekuier het).
Baie
ander latere bekende akteurs en -trises het só 'n lewe gemaak. Ek mag
verkeerd wees, maar ek dink dis hoe Wena Naudé begin het.
Ek en my ma het altyd die optredes bygewoon.
Een
só 'n Saterdagaand het ons opgedress en stadsaal-toe gestap. Die show
sou 8 uur begin. Dit was bietjie vreemd dat dit redelik stil was, maar
ons het maar kaartjies by die deur gekoop en plekke op die harde hout
opvoustoele gaan inneem.
Dit was amper 8-uur en ons was eerste daar.
Teen 8-uur was ons nog steeds eerste daar.- en alleen
Ek het gesien hoe die gordyne op 'n skrefie oopgaan en iemand van die verhoog af vir ons loer.
Kwart-oor 8 was ons nog steeds alleen.
Wéér loer iemand deur die skrefie vir ons.
Teen half-nege gaan die sykant van die gordyn oop en iemand klim van die verhoog af met die sytrappe en kom nader.
Die man is swaar opgemaak en kom staan met sy hande nederig gevou voor ons.
Ag,
hy is só jammer maar dit lyk of ons die enigste toeskouers vir die aand
is. Dit gaan baie moelik wees om die program vir net 2 mense op te
voer. Sal ons vreeslik omgee om maar huistoe te gaan? Hulle sal ons geld
by die deur vir ons teruggee.
Dit
was baie teleurstellend maar ons het die arme mense baie jammer gekry.
Hulle moes nog steeds die huur van die saal betaal ook.
Hoekom dit gebeur het dat niemand anders opgedaag het nie, weet ek nie.
Kort daarna het SUKOVS begin met hulle toere - volledig toegerus met fancy beligting en klankstelsels.
Die romanse van die toergeselskappe was iets van die verlede.
Soos ou Lee Marvin in "Paint your wagon" gesê het:
They civilise left and they civilise right, till nothing is left and nothing is right.
No comments:
Post a Comment