OM TE KAN SIEN
Na
al die jare onthou ek, om een-of-ander rede die tannie se naam. Tannie
Babs. Die vriendelikheid en warmte vanself. Dis miskien hoekom ek haar
onthou.
Haar
oë het met die jare só agteruit gegaan dat sy nie nie meer haar Bybel
kon lees nie. Dit het haar eindeloos gefrustreer en bedruk gemaak.
Ek
het 'n niggie by name "Meisie" in Winburg gehad. Sy was 'n paar jaar
ouer as ek en 'n baie mooi mens in alle opsigte. Haar voorkoms het nogal
herinner aan Jacqueline Bisset.
Sy
het haar toe ontferm oor tannie Babs en haar Bloemfontein-toe gevat vir
oogtoetse. Dit was nogal 'n omvattende uittog want in daai dae het die
pad gegaan oor Bellspas en Brandfort. Die pad deur die Vrystaat soos ons
dit vandag ken, was nog nie eers 'n droom nie.
'n Ruk later is die twee weer terug Blooemfontein-toe om die bril te gaan haal.
Dit was een van daai brille mat so 'n halfmaantjie aan die onderkant van die lense, sê Meisie.
Sy
sê die heelpad huistoe het tannie Babs die bril opgesit en rondgekyk
vir 'n rukkie; dan die bril afghaal en haar kop geskud. Dan weer die
bril opgesit. Die oë was dik van trane. Meisie s'n ook.
Die volgende Sondag was sy in die kerk met die bril. En hét sy gesíng, hoor.
Die Maandag sien Meisie vir tannie Babs in die Afrikaanse Handelshuis, langs Volkskas.
Tannie Babs sonder haar bril.
"Nou waar's die bril dan, Tannie?" Uit die aard van die saak was Meisie baie bekommerd.
"Nee, dis Maandag."
"Ja?"
"Ek
dra die bril net op Sondae. Ek is bang die bril raak te gou "op"gekyk.
Wat doen ek dan? Ek wil nooit weer so halfblind wees nie"
Nouja.
Dis hoe ek dit onthou. Natuurlik kan ek nie na 50 jaar presies die
dialoog onthou nie, maar ek stel my voor dis hoe dit sou gewees het.
Dit is ook 'n ware "storie".
No comments:
Post a Comment