DUIWELSE VISHOEKE
Het jy al opgelet dat die Duiwel se vurk drie tande het.?
Ek is oortuig daarvan die die Duiwel ook die sogenaamde “treble fishing hooks” ontwerp het. ‘n “Treble hook” is ‘n kombinasie van drie enkel hoeke wat aanmekaar gesweis is. Die skade wat die hoeke aan die arme visse aanbring, veroorsaak dat baie minder visse suksesvol vrygelaat kan word na vangs. Gelukkig is dit die moderne neiging om nie “treble fishing hooks” te gebruik nie – juis vir die rede. Die hoeke kan ook ‘n huwelik op sy fondamente laat wankel…..…..
Vroeg verlede jaar het ek besluit om ‘n dubbel kayak te koop.
“Are you sure you want a double kayak? First prize would be two single kayaks”, se Buce van Stealth vir my. (Dit was diie eerste keer wat ek vir Buce ontmoet het)
“My wife and I like to do things together”
Ek koop toe die Evolution Duo en Bruce beveel aan dat ons aansluit by die Durban Paddle Ski Club.
Met die wettige formaliteite afgehandel by die klub, begin ek konsentreer op die visvang aspek van ons eerste “outing” die eerskomende Saterdag. Andree kan roei en ek kan visvang – ons doen mos dinge saam.
Vrydag gaan ek gou Kingfisher-toe om aas en ‘n paar stukkies toerusting te koop vir die vivang-sessie. Ek koop ook ‘n pragige helder oranje plastiek vissie omtrent 100mm lank. Dit het sommer drie “treble” hoeke aan. Dis die eerste “lure” wat ek koop en is baie in my noppies daaroor.
Oppad terug werk-toe stop ek by ‘n robot reg oorkant die ou Lion Match gebou.
Ek kan mos nie goed uitlos nie.
Ek haal die lure uit sy plastiek boksie om dit van nader te bekyk. Dit het selfs staalballetjies in wat die lure laat “rattle” as jy hom deur die water trek. Die ding MOET kan visse vang!
Skielik lệ die taxi agter my op sy toeter.
Die robot is groen. Ek trek vinnig weg maar stall die kar. En ek laat val die lure. Tussen my bene.
Die bleddie taxi druk nog ‘n paar keer op sy toeter en ek trek stadig weg. Nou moet ek versigtig ry. Oppad na die volgende robot-toe probeer ek voel-voel waar die lure is maar dit skuif net dieper in tussen my bene. Nou sit dit vas aan my broek, daar waar die gulp eindig.
By die volgende rooi robot probeer ek versigtig die treble hoeke losmaak. Hoe meer ek met die ding voeter, hoe vaster sit dit. ‘n Bus vol swart vrouens hou langs my stil. Een van hulle kyk af na my toe en klop die persoon voor haar op die skouer. Die oranje ding tussen my bene is redelik opsigtelik. Ek maak my bene effens toe en nou haak ‘n tweede treble hoek aan my broek.
Oppad kantoor-toe ry ek baie versigtig. Hoe meer ek my bene beweeg om die clutch en brieke te trap; hoe meer maak die lure hom tuis tussen my bene. Maar ek voel darem nie iets skerps teen my vel nie.
Gelukkig is my kantoor in ‘n Parkhome op die parkeerterrein van die bouterrein en ek hou langs my kantoor stil.
Wat nou? Ek kan nie eers my bene oopmaak om uit te klim nie. Die lure het beide van my broekspype gehaak.
“Zemvelo !!” skree ek. Dis die Zulu meisie wat vir my werk.
“Bring me the pair of scissors” vra ek toe sy in die deur staan.
“The scissors?” vra sy
“Yes, the scissors” Dis al wat gaan help.
Ek sit die Kingfisher sak oor my skoot.
Sy gee my die sker deur die venster aan en staan vir my en kyk
“You can go now” se ek vir haar.
Na drie of vier delikate snytjies aan die broek verwyder ek die lure.
Die volgende oggend by die Klub is die see redelik rustig. Dis besig om laagwater te word en af-en-toe breek ‘n brander oor die rotsrif wat geleidelik begin uitsteek, (“Vetchies Pier”).
‘n Ligte windjie waai van die see-af.
Ons roei om die rif na die diep water toe – waar ek gaan visse vang!
Soos dit enige ordentlike beginner visserman betaam het ek als moontlik saamgebring om voorsiening te maak vir enige moontlike gebeurlikheid. Daar is al die moontlike soorte aas, twee tange, handskoene, ‘n sker, ekstra hoeke en selfs ekstra lyn. Mens weet nooit nie…..
Maar ek wil eers die nuwe lure probeer.
Andree sit voor my op die kayak en sy kry instruksies om rustig voort te roei terwyl ek die lure entoesiaties aan die visstok en lyn vasknoop, want vandag gaan daar mos visgevang word.
Ek cast die lure agter-toe oor my skouer sodat ek kan trawl terwyl Andree roei.
Maar iets is verkeerd.
“Wat maak jy? Vra sy vir my.
Die lure se treble hoeke het aan haar hemp gehaak, net langs die reddingsbaadjie agter haar linker skouer.
“Sit doodstil”
Dis moeilik om die hoek by te kom en die momentum van die gooi het die hoek behoorlik in die hemp verstrengel.
“Sny die bleddie ding uit! “se sy na ‘n rukkie se gesukkel.
Die sker laat ‘n 50mm diameter gat in haar hemp voordat die hoek los is.
Toe ek die sker wegsit sien ek ‘n meter hoë deining aangejaag kom van links af.
Met die gesukkel met die hoek, het die wind ons ongesiens bo-op die rif gewaai.
Binne ‘n paar sekondes gaan daai deining bo-oor ons breek!
Ek gryp die spaan.
“Roei links, roei links !” skree ek. Ek wil he dat die kayak links moet draai sodat ons die deining van voor af kan slaan.
Andree verstaan verkeerd en sy roei aan die linkerkant met haar spaan. Dit vererger die situasie.
Maar die golf is op ons. En breek bo-op die kayak.
Die Liewe Vader alleen sal weet hoe ons regop gebly het. Ek onthou dat ek op ‘n stadium als gelos het en aan die kant van die kayak geklou het.
Ons is sopnat.
Maar Andree roei nog soos ‘n besetene.
“Jy kan maar ophou roei. Ons is oor die rif”
Sy gooi haar spaan neer.
“EK HET VIR JOU GESE JY MAG NIE HIER VISVANG NIE” skree sy. (Wat het dit met die saak te doen, wonder ek?)
“EK MAG HIER VISVANG EN EK VIR JOU GESE OM LINKS TE ROEI”
“EK HET LINKS GEROEI”
Oppad huistoe praat ons nie met mekaar nie.
Bloody treble hoeke!
‘n Paar weke later het ons die dubbel kayak ingeruil vir twee enkel kayakke.
First prize, soos Bruce gese het.
Nou kayak ons lekker saam.
No comments:
Post a Comment