VATTERIGE HOSPITAALSUSTERS


Vergelegen Medikliniek: 6 September 2020 , 10 uur nm.


Toe die nagsuster voor die voeten-ent van die hospitaalbed verby stap, maak ek my oë toe, maar dis te laat. Sy't my oop oë gesien.


Sy draai terug.

"Kan jy nie slaap nie?"

"Sukkel bietjie"

"Ek bring 'n slaappil".


Ek ys. Ek wil rêgtig so min moontlik aandag van hierdie spesifieke suster af hê.

In die goeie ou dae toe Sean Connery nog James Bond was, was daar altyd so 'n kort, middeljarige vroulike wese wat aan die Russe se kant gewerk het vir die KGB of iets. Strak gesig, vaal bolla op die kop , grys klere met grys kouse opgetrek tot onder die knieë. Die lippe styf toegeknyp en die mond genadeloos voorentoe getuit. Baie soos Trump sou doen. Sy het partykeer vir Bond hel gegee.

Dit is die nagsuster wat na my moet kyk.


Na 'n paar minute kom sy aangemasjeer met die een vuis voor haar uitgestrek.

Ek voel totaal weerloos. Soos 'n skilpad op sy rug. Die hospitaalbed het 'n massiewe duik/gat in die middel onder my boude. Ek kan gladnie eers probeer op my sy draai nie. Uit my linkerhand kom 'n drup wat vertak na verskeie plastiek sakkies wat iewers agter my kop hang. My regterarm is toegewikkel in 'n bloeddrukmeter se ballon waarvan die rubberpyp iewers onder die bed vassit aan die bed se baie pype en skroewe. Boonop blaas die ballon elke 15 minute op om my bloeddruk te neem. (Tydens 'n roetine-ondersoek 'n paar uur vroeër in die kardioloog se spreekkamer, was my bloeddruk 250 oor 50 en dus was ek met groot haas na die hospitaal se kardiologie-ICU gehaas. Gelukkig net 'n vloer onder die dokter se spreekkamer.)


Soos ek daar lê, is al wat ek kan beweeg, my kop en een-en-'n-halwe been. Die stompie steek tot by my heup onder die duvet uit omdat dit nogal warm is.

Die suster kom staan langs my en druk die pilletjie uit sy plastiek doppie uit. Die pilletjie skiet uit en vir 'n split-oomblik sien ek 'n wit spikkel trek en voel hoe iets hoog bo, tussen my bene op my vel beland. Die pilletjie is omtrent so groot soos 'n vuurhoutjiekop.


Ek kyk vir die suster.

Sy kyk vir my en glimlag.

"Oeps" sê sy.

"Ons sal die pil moet soek" sê sy. "Daar is geen manier dat ek 'n ander een kan gaan haal nie"

My hande is vasgebind en ek voel heeltemaal aan die genade oorgelaat. Magteloos.

Ek wou nog vir haar sê dis OK ons kan maar die pil maar môre kry as dit lig is, maar sy het klaar die duvet afgetrek en haar hande onder my bobene ingedruk. Dit kielie. Ek het darem my onderbroek aan. Ons het nooit verwag dat ek in die hospitaal gaan beland nie.

Sy werk haar hande al hoër en hoër op tussen my bene en vra:

"Kan jy jou boude dalk lig asb? "

Ek lig my boude en sy voel-voel vir die damn pilletjie onder my boude. Nou kielie dit amper lekker.

Om die spanning te breek sê ek maar: "As dit so aangaan kan dit later dalk lekker raak."


Sy sit haar kop op die rand van die bed neer en begin lag. Hande nog onder die boude. Ek sien haar skouers skud soos sy lag.

"Ek hoop nie iemand sien ons nou nie." sê ek.

Ek wonder wat my bloeddruk op daai stadium was.

Sy lig haar kop

"Sorry, man, ek dink ek het hom." sê sy tussen die giggels deur.

Ek vat die pil sommer uit haar handpalm uit en drink dit gou.

Suster Leonie het onlangs uit Bloemfontein hier aangekom.

Ten spyte van haar voorkoms was sy vriendelik, dierbaar, maar veral had sy 'n uitstekende sin vir humor. Onontbeerlik vir haar beroep.



Wat die hoë bloeddruk veroorsaak het weet nugter maar nou het ek nog twee addisionele pille in my arsenaal om die bloeddruk op die regte spoor te hou.


 

No comments:

Post a Comment