BAVIAANSKLOOF
By Plett hoor ek hoe Adai vir
Ouma oor die selfoon se dat ons al te ver Oos is om die Baviaanskloof
te ry. Adai het 'n hele "flipfile" inligting oor de kloof
versamel en dit saamgebring met die hoop dat ons die geleentheid gaan
kry om die kloof te "doen"
Soos dit uitdraai, slaap ons
'n paar aande by Groenvlei langs Sedgefield en dus is ons nie meer te
ver Oos om nog deur die kloof op pad huis-toe te ry nie.
Op 1
Januarie 2009 vertrek ons saam met die Boshoffs vanaf Lake Pleasant
op pad na die Prins Alfred-pas en Uniondale-toe. Ek het nogal verwag
dat ons mekaar weer op die pas of Uniondale sal teekom, maar soos ons
met met die reguit ent pad al langs Groenvlei in die rigting van
Knysna gery het, het ek gesien hoe die Boshoffs se Prado en waentjie
voor ons kleiner en kleiner word totdat dit oor die bult verdwyn het.
Dit was die laaste sien van die Boshoffs.
Oor die mistige Prins
Alfred-pas en anderkant Uniondale draai ons af op die grondpad
Baviaanskloof-toe.
Na omtrent 30 km is ons aan die bokant van
Nuwekloofpas, die begin van die kloof. Soos mens afkronkel met die
pas word die kloof dieper en dieper. Vir kilometers vleg die pad
talle kere tussen die kranse deur en oor die rivierlopie onder in die
kloof en om elke draai verstom jy jou aan die lae op-gevoude
rotsformasies wat lyk soos 'n hoederpastei se blaardeeg. Amper soos
Meiringspoort maar baie meer aanhoudend.
Eindelik vou die kloof
oop en bevind jy jou in 'n bree vallei, omring deur massiewe berge.
Die pad loop al met die vallei af en elke plaas langs die pad
adverteer iets om te verkoop by sy hek. Blyplek, teekamer,
boomstompe, bobbejaanskedels, klippe.
Meestal
blyplek. Daar's nie juis meer tekens van aktiewe boerdery nie.
By
die plaas Rietrivier draai ons in. Hulle adverteer slaapplek in
grotte en word ook op die kaart aangedui as die enigste
inligtingsentrum in die kloof.Ons het skaars stilgehou by die
inligtingsentrum toe Boetie Terreblanch langs ons stilhou op sy quad.
Bejaarde man met 'n paar grys hare.
"Dit was my aartappelstoor
voor ek dit die inligtingsentrum gemaak het." verduidelik hy toe
hy die deur oopstoot. Geen slotte nie, let ek op.
In die middel
van die 6m by 6m kamer is 'n massiewe plaastafel vol gepak met
pamflette, brosjures, foto's ens. 'n 50 mm Wye verfstreep op 3 van
die kamer se mure verteenwoordig die pad deur die kloof. Al langs die
kronkelende verfstreep word elke plaas aangedui. By elke plaas is
foto's en inligting soos blyplek op die plaas en wat daar op die
spesifieke plaas te doen is. Vyf-en-twintig plase tel ek vinnig. (en
dis maar een van drie roetes deur die kloof). In een hoek van die
kammer is "Pick'n Pay" geverf. Onder die kennisgeing le
daar 3 pakkies biscuits te koop.
Boetie begin met 'n toer deur die
plase op die muur. Na 'n rukkie stop ek hom. (Dit sou net te lank vat
en dis al half-vier)
"Eintlik sou ons graag by
die Kougadam wou slaap" se ek en wys na die kano op die dak.
(Die dam is in die reservaat by die einde van die kloof nog sowat 150
km ver in die rigting van Patensie.)
Boetie kyk na my. Eers vertel
hy ons hoe onmoontlik dit is om 'n permit te kry om een tree van die
"hoofpad" deur die reservaat af te wyk. Die reservaat (nog
70 km ver van Rietrivier af) is wildernis-area en slegs daai mense
met dik brille van die universiteite kry f.. permitte se hy. Selfs
hy, wat 'n inwoner van die kloof is, mag nie 'n permit kry om die dam
te besoek nie. Hoekom stal Natuurbewaring plakkate uit van die dam as
mens dit nie kan besoek nie, wonder ek.
Toe wys hy ons 'n profiel
van die pad op 'n rekenaar gedrukte papier.
"Hier", se hy,"is Sandvlakte. Die laaste privaatgrond voor die reservaat. As julle by Doodsklip kom in die reservaat en julle sou wou omdraai, kom slaap hier.
Hoekom sou ons wou omdraai, wonder ek.
"Hier by Doodsklip moet jy maar rustig ry. Vat dit stadig en.." hy kyk na die Subaru,".. julle kar is darem redelik hoog. Laat die kar maar die op-en-af klimwerk doen op sy tyd. Vat dit net rustig" se hy.
"Twee karre kan by mekaar verbykom, maar jy moet maar mooi meet en pas." "In die ou dae het ons groot lorries met tabakblare met die pad PE-toe gestuur," se hy.
"Nou word die pad nie meer
in stand gehou nie."
Op-en-af klimwerk?
Adai kyk na my.
"Miskien moet ons hier slaap", se sy.
"Ek geen idee
wat voorle nie, " se ek vir Boetie.
"Ek stel voor julle
slaap iewers voordat julle die reservaat aanpak. " se hy.
"As iets verkeerd gaan in die reservaat, is jy alleen. Geen selfoonontvangs nie.Niemand om te help nie. Jy's alleen. En teen daai tyd is dit al donker " se hy.
Hy wou ons nog verwys na 'n
plaas wat sou huisvesting kon bied, maar ons besluit om in een van sy
half-klaar "grotte" te slaap.'n Anderste soort mens, die
Boetie. Hy hanteer seker die inligtingsentrum sonder vergoeding, op
sy eie, namens almal en boonop is daar geen teken van selfverryking
aan sy kant nie."Ry maar op met die kloof en gaan kyk na
Dawid-se-bak (die grot se naam). As julle daarvan hou trek maar in.
Dan praat ons more"
Geen vooraf betalery nie. Geen deposito
betalery nie.Maar dis die gevoel wat jy kry as jy deur die
Baviaanskloof ry. Hierdie afgesonderde mense het ander waardes, amper
'n subkultuur van hul eie.Hulle het nie 'n probleem daarmee om luukse
akkommodasie op hulle plaashek te adverteer met 'n "Te Koop"
bobbejaanskedel langs die akkommodasie kennisgewing nie.Dis seker
maar hoe dit is met die mense van hierdie "gatskraal-wereld"
- soos Boetie dit noem.
Foto's moet maar die goed
toegeruste oorhang waaronder ons geslaap het, illustreer. Dit was
wonderlik-vreemd. Jy slaap alleen tussen die berge. Geen siel te hoor
of ligte te sien nie. Die vier of vyf "grotte" is
kilometers vanmekaar in die kloof op gespasieer en ons was totaal
afgesonder en alleen in die kloof met slegs die berge se stilte as
geselskap.
Ek het die nag onder die Gwarrieboom in die "grot"
geslaap en effens nat gereen voordat ek moes skuif.
Die
volgende dag het Boetie gese as dit meer gereen het, sou hy kom kyk
het. Hy se hy't agtergekom dat die dak iewers lek.Soos Ruan se:
Miskien lek dit daar waar die Gwarrieboom is. Daar waar geen dak is
nie.
Toe ons die laaste privaatgrond by Sandvlakte agterlaat en
die reservaat binnery, was dit ook die laaste van die gangbare
grondpad.
Die vallei het weer toegevou om ons en ons criss-cross die Kougarivier baie keer. (Dis die rivier wat naby Jeffrey's uitmond).Op een plek was die rivier seker 40m wyd en tot 300mm diep.'n Isuzu bakkie het darem gewag en gekyk of ons kon deurkom. (geen foto van die stukkie pad nie - wou nie stop nie)Die pad (2-spoor) is plek-plek so smal dat die bosse die kar gelyktydig aan albei kante krap. Soos Boetie gese het, jy sal wragtag mooi moet meet astwee karre verby mekaar moet kom.Na omtrent 20km hiervan begin die klim berg-op.
Doodsklip.
Met
die eerste opdraande le die rots-besaaide donga's soos 'n reuse
spinnerak in die "pad". Ek verstaan nou wat Boetie
Terreblanch bedoel het toe hy gese het die kar moet maar die klimwerk
op sy eie doen. Soos die een voorwiel in 'n 300mm diep donga afgly,
klim die ander voorwiel al op teen die oorkanste helling van dieselde
donga wat skuins oor die pad loop.
Die
agterwiele volg dieselfde patroon. Die waentjie volg gedwee maar die
hitch kreun, knars en clang-clang agter ons. Dit laat Ruan worry. En
vir my.
Voor ons wieg-wieg 'n Landrover deur die donga's en oor
die klippe. Ons vorder stadiger as loop-spoed. Vir kilometers.
Op
een plek waar die pad bietjie wyer is, stop 'n wit Subaru wat van
voor-af kom, langs ons
. "What's the road like up ahead?"
vra die man.
"Hairy" antwoord ek en verduidelik.
"There
is a lot more of that where you are heading" se die man. Dit wou
ek nie hoor nie.
"Good thing you brought alternative
transport" se hy en wys na die kano op die dak.
"Won't
help you much, though" se hy.
'n Paar kilometers verder
met die berg op gebeur die ondenkbare. Daar kom 'n Mercedes-lorrie
van voor-af. (Geen lorries word eintlik toegelaat nie) Die 4X4's
staan tou voor ons om verby te skuur. Die lorrie is aan die berg se
kant van die helling en het skuins teen die helling parkeer sodat ons
kan verbyskuur, met die afgrond 'n paar sentimeter van ons
linkerwiele af.
Vir
kilometers kruip en kronkel ons teen die berg op en die pad is party
plekke so smal dat twee karre wragtag nie by mekaar verby sal kom
nie. Op een stadium het ek in die spieeltjie gesien hoe die waentjie
se regterwiel omtrent 250mm hoog die lug in spring toe ek (bietjie
vinnig) deur 'n sloot ry.
Se-nou daar kom 'n kar van voor-af met
'n sleepwa? Iemand sal moet reverse vir honderde meters om die
kronkels en hair-pin draaie.Dit gaan nie ek wees nie, besluit
ek.
Een ding is seker: as jy eers met die pad begin het, is jy
committed vir die volgende 50 of 60 kilometer. Daar is geen manier
wat jy kan omdraai nie (met 'n waentjie) - ten spyte van wat Boetie
Terreblanch gese het.
Die kar se temperatuur bly op normaal en ek
begin wonder of die meter werk.Dit is doodstil in die kar en al wat
jy hoor is die gly-gly van die bande deur die donga's en oor die
klippe en die gekerm van die hitch.
Tot Adai se: "Bliksem.
Kyk daai gradient!"
Die Landrover voor ons is teen 'n
oorkanste helling besig om met 'n skynbare onmoontlike helling op te
skommel.Toe ons by die helling kom, sit ek die kar in Low Range vir
die tweede keer vandat ons hom het. Dit maak 'n ongelooflike verskil.
Ek raak skaars aan die petrolpedaal maar die Subaru klim nou met
gemak deur die slote en oor die klippe. Moes dit lankal gedoen het.
Die kar se pens is 200mm van die grond af en ons het 3 keer geskraap,
sonder skade.
Bo-op die berg hou ons stil en ek inspekteer die
hitch. Die 360 grade uitsig is asemrowend en die blomme (heide,
speldekussings, ens) is heeltemal anders as die wat jy sien in die
Kaap.Ek het gladnie verwag om Kaapse fynbos tee te kom in die Klein
Karroo nie.
'n Landrover met 'n massiewe offroad waentjie kom
van vooraf en iemand skree
"Ahoy, there!" met die
verbygaan.
Ahoy jouself, dink ek. En ek hoop jy't remme aan daai
waentjie, swaer. Remme wat werk.
Ons voel bietjie uit plek uit met
die "soft" 4X4 met 'n boot op die dak en 'n Ventertjie in
tou tussen al die hard-core 4X4's.
Die selfone werk nou weer en
Adai bel gou vir Brenda.
"Nou weet iemand darem waar ons is,"
troos sy haarself.
Berg-af was ewe erg. Op 'n stadium se
Adai:
"Jannie het by Sani-pas die Prado in low range gesit
toe ons af gery het."
Dit is duidelik dat sy ook, soos ek,
gewens het dat Jannie liewers nou aan die stuur was.
Half-pad
berg-af wil Adai weer 'n draai loop. Vir die derde keer. In 'n uur.
Maar ek weier. Ek wil so gou moontlik van die bleddie berg af kom.
Hoe langer jy op die berg is; hoe groter die kanse dat 'n kar van
vooraf sal kom.
Omtrent 4 ure nadat ons met die pas begin het is
ons deur. Omtrent 60 km.
Prins Alfredpas is 'n highway in
vergelyking. Die laaste 60 km van Baviaanskloof is soos 60km se
Sani-passe aanmekaar gelas. Party plekke sou die padoppervlakte selfs
slegter kon wees as Sani op sy ergste. Daar is darem nie so baie los
klippe in die pad soos op Sanipas nie. Dis die verspoelings (donga's)
en rotsbanke wat uisteek.
Is ons spyt ons het dit gedoen?
NEE.
Dit is die skouspelagtigste omgewing waardeur ons nog ooit gery het.
Majestieuse berge, diep, donker klowe en uitsonderlikeblomme wat mens
nie aldag sien nie. 'n Wildernis in die ware sin van die woord.
Sal
ons dit weer doen? Been there. Done that. Never again. But that's a
pity. Dis so ongelooflik mooi.
No comments:
Post a Comment