OUPA WAT HET JY GEMAAK?
Vandat
my oom Tokkie my van die insident in die Winburg se begraafplaas
vertel het, het ek begin oplet na die doen late van die grootmense in
die dorp.
Maar eers die begraafplaas storie.
Die "ou" begraafplaas is deesdae half in die dorp. Regoor die straat van die vrymesselaars se losie.
Daar word gesê dat Winburg die oudste dorp in die Vrystaat is. Dit maak die begraafplaas seker ook die oudste in die Vrystaat.
Synde
half in die die dorp te wees, moes die munisipaliteit maar toesien dat
dit in 'n goeie toestand gehou word. Dit is (was?) nogal 'n spoggerige
plek. Marmer engele wat stip met wit, dooie oë staar na die half-skewe
sandsteen randstene om die grafte. Geroeste gietyster kruise wat half
vasgegroei is in die peperbome.
En
dan was daar die Shniehage-familie se mausoleum. Niemand weet eintlik
meer wat die geskiedenis van die familie was nie, behalwe dat almal laat
die 1800' oorlede is. My oupa was die grofsmit op die dorp en het
blykbaar die staaldeur van die mausoleum gemaak.
Dit
was omtrent 1960 toe die munisipaliteit my oom Man bel. Sal hy
asseblief gaan kyk wat fout is met die mausoleum se deur. Die ketting
is af geroes en die deur staan half oop. Oom Man het die
grofsmitbesigheid oorgeneem by my oupa wat jare gelede reeds oorlede is.
Oom man stuur toe vir oom Tokkie, wat vir my oom Man werk, om die deur
te gaan regmaak.
Oom Tokkie het maar altyd redelik maklik geskrik oor hy so bygelowig was.
Oom
Tokkie sê sy nekhare het al klaar begin regop staan toe hy die
begraafplaas se skreeuende hekkie oopmaak. Nadat hy 'n paar oomblike
gestaan en die mausoleum betrag het, het hy versigtig nader gegaan.
Versigtig, en teen sy beterwete het hy stadig die deur oopgetrek en huiwerig ingeloer.
Hy
sê dit was asof iemand hom teen sy agterkop met 'n ploegskaar geslaan
het. (Een van sy werkies by smitswinkel was om boere se ploegskare
skerp te maak). Dit hom 'n paar sekondes geneem om te verwerk wat hy
voor hom gesien het.
Net aan die binnekant van die deur het 'n geraamte op die vloer gelê. Stukke witterige lap.
Aan die binnekant van die deur het die res van die witterige lap van 'n haak aan die binnekant van die deur gehang.
Oom
Tokkie het nie juis 'n doktorsgraad in filosofie gehad nie, maar hy kon
baie gou uitwerk watse toneel hom daar afgespeel het - miskien 'n paar
dae nadat die mausoleum se deur finaal toegemaak was. Die deur was
blykbaar taamlik dik en sekerlik klankdig.
Die Ford Falcon se bande het heelpad huistoe op die gruis strate gespin. Hy was direk huistoe.
Oom Man het toe maar iemand anders gestuur om die slot en ketting te vervang en die faktuur by die munisipaliteit gaan inhandig.
Hy't gedink dis miskien maar beter om nie te praat nie.Dit kon dalk net allerhande stories en ondersoeke tot gevolg hê.
Maar my vraag is: Wat het Oupa besiel om 'n haak aan die binnekant van die deur aan te bring?
No comments:
Post a Comment