DIEPSEE.
Sodwanabaai se strand. Nege-uur die oggend van 22 Maart 2008. Paasnaweek. Mooi sonskyndag en windstil.
Ek en Adai staan stomgeslaan op die strand. Vir omtrent 2 km Mosambiek se kant-toe staan daar gazebo's opgeslaan op die strand. Letterlik honderde. En 4x4's. En trekkers. En geroeste lorries. En bote, rubber ducks en what-not.
Die voertuie jaag op en af op die sagte sand. Party mense skarrel om hulle bote hardhandig te launch. Ander kom met 'n helse spoed uit die see om te beach. Party werk aan hulle outboard motors. Daar is skynbaar nie reëls hier nie en jy moet oë agter jou kop hê as jy hier ronddwaal. 'n Blonde meisie op 'n trekker met 'n doelgerigte uitdrukking op haar gesig ry rakelings by ons verby om nog lugbottels iewers te gaan aflaai. Die trekker het 'n spesiale mandjie agterop vol bottels. Agter die duin dreun 'n kompressor wat lugbottels volmaak. Die gazebo's se dakrame hang vol duiktoerusting. Lugbottels is oral opgestapel in piramiedes.
Die magdom van bote varieer van 3m rubberduckies to 3 verdieping motorised fishing yachts wat mens met Ernest Hemmingway sou assosieer.
Op een van die gazebo's se dak adverteer hulle "Scuba Diving" en "Snorkling". Oh cool, dink ek. Hulle vat mens seker na poeletjies toe wat buite loopafstand is. (Yeah, right, het ek later agtergekom). Ons stap nader en die bruingebrande maer vrou onder die gazebo check toerusting wat rondstaan en tick op haar clipboard af. Ja, se sy vriendelik, daar mag dalk vanmiddag plek op die boot wees. As hulle boot nie vol scuba duikers is nie, maak hulle hom vol met mense wat snorkel. Sy sal bel. (Gelukkig werk selfone hier). Maar dan is dit mos hoogwater, dink ek. Die poele sal toe wees onder water.
Een-uur bel sy. Daar is plek op die boot en ons moet half-twee by die gazebo wees. By die gazebo lê en sit mense rond. Hulle wag vir die boot om terug te kom van die riwwe af met 'n klomp scuba duikers.
'n Getattoe-eerde instrukteur verduidelik dat daar 'n paar scuba duikers saam op die boot gaan.
Daar is so vyf van ons wat gaan snorkel. Ons gaan die scuba duikers eers afgooi en dan sal die boot ons na 'n vlakker gedeelte van die rif vat waar ons gaan snorkel. Die rif is hier maar so 12 meter diep, se hy.
TWAALF METER DIEP? SNORKEL?
Toe hy klaar gepraat het, roep ek hom stilletjies eenkant toe. Ek verduidelik dat daar geen manier is wat ek 12 meter diep kan duik nie. Ek sal op-pop soos 'n rubberbal (ek wys na my pens), en buitedien sal ek nie my asem so lank kan ophou nie. Plus, my vrou se ore sal die druk nooit kan handle nie.
O nee, se hy, dis nie die idee nie. Niemand kan so diep snorkel nie. Jy dryf maar net op die oppervlak soos gewoonlik. Jy sal wel baie te sien kry - al duik jy nou nie tussen die korale nie. Daar is baie vis en hulle is nuuskierig. Moenie worry nie, se hy.
En seesiek? Hy waarborg my dat ek nie sal seesiek word nie.
Hoe weet hy, wonder ek.
Terwyl ons wag onder die gazebo word daar paddavoete aangepas. Ons het ons eie snorkels en brille. 'n Stocky, vriendelike, goedgeboude New-Seelander man stel homself aan my en Adai voor. Hy werk elke jaar vir ses maande in London. Die res van die jaar toer hy oor die wereld en scuba-duik. Hy was al orals. Hy se dat die riwwe by Sodwana enige tyd net so spectacular is as by die Great Barrier Reef, maar eintlik nog beter omdat die Sodwanariwwe meer blootgestel is aan die diepsee. Behalwe vir die rifvisse sien mens hier ook diepsee visse soos die "whale-shark". Hy wys ons foto's wat hy die vorige dag geneem het van so 'n "whale-shark" en 'n skool dolfyne wat saam gespeel het in die water. "Let's cross fingers that you have the same experience", se hy.
Die water is 12 meter diep, onthou ek. Ek loer om die hoek van die gazebo. Daar is nou 'n ligte briesie en hier-en-daar vorm daar 'n wit perdjie op die see.
"Die see is vol wit perde", se ek vir Adai. Ek dink sy hoor my nie.
"Die wind waai nogal sterk", se ek. Sy se niks.
Ons het klaar betaal.
Die rubber "duck" waarmee ons uitgaan is 'n 10 meter lange monster. Alles wat droog moet bly word in 'n kompartement toegemaak. Maar die boot le met sy boude na die see se kant-toe. Wat nou? wonder ek. Geen probleem vir 'n geroeste trekker nie. Hy haak die boot se boeg en draai hom sonder moeite deur 180 grade tot sy boeg branders-toe wys.
Wat nou? wonder ek. Weereens, geen probleem vir die trekker nie. Hy stoot die boot met 'n telefoonpaal oor die sand tot in die water. Ons is nou halflyf in die water en hou aan die boot vas. Eintlik was dit seker die idee dat ons die BOOT moet vashou en nie AAN die boot moet vashou nie.
Adai en 'n Britse meisie word eers ingehelp op die boot. Die opgeblaaste rand van die boot is omtrent 500 mm bo die watervlak en dis nogal 'n mission om in te kom.
Lifejackets aan. Hulle wys ons hoe om vas te hou. Jou regterhand hou vas aan 'n tou tussen jou bene. Linkerhand hou vas aan 'n tou langs jou. Voete stewig in kicking straps ingejam.
Die skipper is 'n jong. blonde seningrige Aussie-man.
"Ready?" vra hy en maak die twee 100 perdekrag (elk) enjins vol oop sonder om te wag vir 'n antwoord. Ons skiet vorentoe die branders in.
Hier kom moeilikheid, dink ek.
Ons slaan die eerste brander met 'n helse slag. Almal is sopnat. Dit voel of die boot vir 'n paar oomblikke vlieg voordat dit in die gat agter die brander val. Die volgende brander is op ons. Die skipper gooi die boot links en gee weer vet. Nou gaan ons skuins oor die brander. Die volgende brander tref ons van die kant af en die skipper gooi die boot weer regs.
Ek hou vas, meneer. Ek skat die deinings was so 3 meter hoog van kruin tot trog. My hoed (wat normaaleg stewig pas) wil afwaai en ek pluk hom af. My bril is sopnat en my oë brand van die seewater.
So hou dit aan. Op, af, links , regs - als teen 'n helse spoed.
Die ou weet obviously wat hy doen, se Adai. Hy't dit seker al honderde kere gedoen. Miskien duisende kere.
Omtrent 500 meter die see in hou ons stil by 'n geel geverfde paal wat vertikaal bo die water uitsteek. Dis die suidelike punt van een van die riwwe vertel die skipper. Die rif gaan nog 3km noord en 5 km see-in.
Almal trek hulle lifejackets uit. 'n Hard-core scuba duiker se vir my ek kan maar my lifejacket aanhou as ek meer comfortable sal voel.
Damn right ek sal hom aanhou, dink ek. "Hou jou lifejacket aan" se ek vir Adai.
Ons veg verder met die see noord vir nog so 300 meter waar ons die scuba duikers gaan dump. "As jy die horison dophou sal jy nie seesiek word nie", se ek vir Adai. Ek het dit iewers gelees of gehoor. Maar dis moelik om die horison te sien met die groot deinings.
Dis erg om seesiek te wees se hulle. Eers wens jy jy gaan nie dood nie en later wens jy jy wil nou doodgaan.
Ons hou stil om die scuba duikers te los. Die helderheid van die water is ongelooflik. Mens kan die bodem sien in die sowat 18 m diep water. Die kleur van die water is soos mens op TV sien hoe dit by die Seychelles en daai plekke lyk. Die duikers gaan deur hulle checklys en die skipper tel af voordat hulle agteroor die dieptes in verdwyn. Als baie formeel. 'n Geel boei dui hulle posisie aan.
'n Verdere 200 m noord waar die water 12m diep is,is dit ons beurt.
"When you're ready and in your own time" se die Skipper. Geen seremonie hier nie
"If you want to get back in the boat, just stick up your hand" se hy.
Die britse meisie is verkoue en wil nie duik nie. Sy vergesel net haar boyfriend.
Ek probeer my duikbril nat spoeg soos die scuba duikers gemaak het maar my mond is droog.
Ons gly in die water in. Die water is 27 grade C en heerlik warm. Ek swem 'n entjie weg van die boot af. Adai is langs my. Ek kyk af na die bodem. Mens kan nou die koraalboompies duidelik sien maar als is 2 dimensioneel vanwee die diepte. Geen skaal nie. Alles is ligblou getint en jy kan nie eintlik kleure onderskei nie. As jy 'n haai sien, het iemand gese, moenie panick nie. Le net doodstil en lyk vriendelik. Ek lig my kop en sien die boot is darem nog daar. Adai is nou 'n hele entjie van my af. Ek sien geen visse nie. 12 meter diep dink ek. Dis bloody vier verdiepings hoog. So hoog soos my kantoor van die grond af.
Die deinings het ook geen genade nie. Jy word op en af en links en regs gestamp. Dis moeilik om beheer en rigting te behou. Hierdie is 'n resep om seesiek te word, dink ek.(Eintlik moet mens seker nie die branders probeer veg nie en jou lot maar gelate aanvaar).
Water begin tussen my snor en die duikbril instroom. My oe begin brand en ek probeer van die water ontslae raak maar kry net meer water in. Ek begin moeg en kortasem raak van die effort om kop bo water te hou. As die Aussie-skipper nou besluit om 'n draai te gaan ry, is ek in die moeilikheid, dink ek.
Ek swem terug boot-toe en hou vas aan 'n tou langs die kant van die boot om te rus. Die wind waai teen die boot en jou lyf word gedurig onder die boot ingesleep. Dit voel asof die see jou onder die boot wil insuig. As die Aussie-skipper nou die enjins start sny hy my in twee, dink ek. Genoeg is genoeg. Ek spartel 'n ent van die boot af en steek my hand op so hoog ek kan. Met 'n 2de hulp-poging van die Aussie-skipper is ek terug in die boot.
Die ander snorkelaars het nou redelik versprei. Adai is so 40m van ons af. Ek hou die horison dop. Ons is so 2km van die strand af. Skielik sien die skipper 'n skilpad op die oppervlak dryf. Ons cruise so 100 m en hou 4m van die skilpad af stil. Dis 'n "Loggerhead" van so 1m lank met 'n reuse kop. Die skipper vertel die Britse meisie die hele storie van hoe die skilpaaie in hierdie geweste kom eiers le, ens. Wat van Adai, wonder ek. Wat het geword van "Just stick up your hand"? Ek probeer opstaan om haar te soek maar beland redelik onelegant weer op my boude op die boot se rand. Die boot skommel in rigtings wat die wiskundiges nog moet ontdek.
"Looks like we've lost your wife to the sea, mate" se die skipper met 'n glimlag.
"How do you know where you are?" vra ek.
Hy verduidelik dat hy 2 landmerke (soos bome) op die strand oplyn in een rigting. Dan lyn hy 2 ander landmerke (soos die ligtoring en die take-away) op in 'n ander rigting. Sodoende pinpoint hy sy posisie binne 'n paar meter.
"No need for GPS then" se ek.
"Not unless the lighthouse moves, mate" se hy.
Wiseguy.
Terug by die snorkelaars parkeer 'n ander rubberduck langs ons. Kan ons, as ons voor hulle teruggaan, asb 'n seesiek meisie saamvat? Ek kyk na die meisie. Sy le op haar maag op die bodem van die boot en lyk dood. Ek soek weer die horison op. Word ek naar, of verbeel ek my?
Dis tyd om die snorkelaars na 'n ander plek op die rif te verskuif. (Hulle doen nogal baie moeite om jou waarde vir jou geld te gee) Die jong manne pluk hulleself sonder hulp en met min moeite terug in die boot.
Nou is dit Adai se beurt. Die skipper hou haar hand en vra haar om te skop met die flippers. Sy gly los van sy greep en verdwyn die dieptes in. Toe sy opkom vra hy haar om na ander kant van die boot te swem waar daar branders is. Toe die boot effens dip pluk hy haar op die boot.
Adai lê nou met haar maag op die kruin van opgeblaaste rand.
Die arms swaai en soek vashouplek. Die bene skop en maal om vastrapplek in die lug te kry met daai flippers. Met nog 'n pluk beland sy face-down op die bodem van die boot. Sy moes haar neck-brace gehad het, dink ek. Goeie ding sy't 'n T-shirt aan en nie 'n bikini toppie nie.
Adai het later gesê dis 'n wonderwerk dat sy nie winde gelos het tydens die eskapade nie.
Wat het sy gesien? Baie visse, sommige met snaakse vorms, ens. En 2 Stingrays.
Die uur is verby en ons laai die scuba duikers op. Die timing was impeccable. Terug strand-toe gaan dit baie makliker want ons ry nou saam met die swell. Omtrent 200m van die strand af hou die skipper stil. Lifejackets word weer aangetrek.
"No loose items in the boat?" vra hy. No loose items. Vir 'n paar oomblikke kyk hy om hom rond. "HOLD ON TIGHT GUYS" skree hy en maak daai monster enjins oop.
Liewe donner. Dit voel of ons teen 900km/uur op die strand afpeil. As ons daai sand strike, vlieg ons tot by ons tent, dink ek. Toe ons die sand tref voel dit of my nek ses duim langer word. Die boot gly oor die sand tot amper bo-op die duin, ver van die water af. Vir 'n oomblik huiwer die die boot horisontaal en tiep dan stadig sywaards tot dit op sy skuins bodem tot ruste kom. "Well done" se die ander ouens. "Good beaching" se hulle. In stilte wonder ek hoe 'n bad beaching lyk en voel. Ons klouter van die boot af. Moeder aarde. Terra firma. Dit waarvoor die mens ontwerp was.
Adai is nogal erg naar. Die begin van seesiekte. Ek voel OK.
Sal Adai dit weer doen? Natuurlik sê sy. Dis soos die wildtuin. Volgende keer swem jy dalk tussen dolfyne en die whale-shark. Wie weet?
Sal ek dit weer doen? Ek moet erken ek het nie 'n probleem met die "Kiddies pools" nie. In een van die poele het ons die ongelooflikste, verskeidenheid van neonkleurige vissies gesien. Daar was 'n "cleaner wrasse" wat 'n paling se tande skoongemaak het; 'n ander goudgeel paling met luiperd-kolle; 'n geel pylstert met neon pers kolle, 'n wit vis met 'n geel kol op sy sykant wat sy neus heeltemaal in die sand druk op soek na kos, ens.ens. Adai het gese dis soos om in 'n vistenk te duik.
Boonop is dit verniet. En jy hoef nie heeltyd die horison dop te hou nie.
No comments:
Post a Comment