MY EERSTE EN LAASTE VUURPYL
Toe
ek op hoërskool was, was ek maar taamlik alleen. My oudste broer was
in Tukkies en my ander broer was eers in die vloot en later in Paul
Roux by die magistraatskantoor. Ek het moeilik vriende gemaak.
'n
Kliniese sielkunde het baie jare later vir my gesê ek sien myself nooit
as deel van 'n groep nie. Always on the outside looking in. Ek dink hy
was baie reg.
My grootste vriend in daai dae was Die Afrikaanse Kinderinsiklopedie.
Dit was my Google.
Die hele wêreld was opgesluit in die 10 volumes van die insiklopedie.
En
dis waar ek gelees het hoe om buskruit te maak. Ek ken nie meer die
verhoudings nie maar dis 'n mengsel van salpeter, fyn gemaakte houtskool
( of suiker) en blomswael. Maklik en vrylik beskikbaar.
Dis die mengsel wat ek sou gebruik as brandstof vir my vuurpyl. Of só het ek gedink.
Ons
het destyds in 'n "semi-detached" huis gebly in Voortrekkerstraat in
Winburg. Sien aangehegte foto ter illustrasie. (Ons huisie was egter
baie meer beskeie). 'n Ou tannie en haar 5 jarige kleindogter het in die
huis langs ons gebly. Stil, besadigde mense. Die twee identiese huise
het 'n gemeenskaplike fasademuur aan die straat se kant gehad . Agter
die muur, en tussen die huise was daar 'n een meter spasie. Dit het 'n
lang, daklose gang tussen die huise gevorm wat aan die straat se kant
toegebou was. Die ideale toetsterrein vir 'n missiel.
Ek het 'n oufietspomp halfpad gevul met die poeierbrandstof. (Ek sien NASA noem dit "solid fuel".)
Vir die neus van die vuurpyl het ek 'n stok in die groot oop kant van die pomp ingedruk.
Ek
het die vuurpyl versigtig op twee bakstene geplaas sodat die neus wys
in die rigting van die gang se toe kant. Vir 'n lont het ek 'n stukkie
papier V-vormig gevou en 'n strokie buskruit ingegooi. Die "lont" het
styf teen die klein gaatjie gepas waar mens die rubber pypie sou
inskroef as jy 'n wiel wil pomp.
Bietjie senuweeagtig steek ek die lont aan die brand.
Dis
moelik om te verduidelik. Stel jou voor 'n weerligstraal slaan die
grond een meter van jou af. Dit was 'n helse slag en ligflits.
Dit was 'n pypbom.
Onmiddelik
het die dogertjie langsaan histerie begin gil en huil. Ek kon letterlik
hoor hoe die ouma in die huis hardloop en skree: "Elsie! Elsie!, waar
is jy"! Sy moes gedink het dis armageddon.
Ek het vinnig om die huis gehardloop en ewe onskuldig op die voorstoep gaan sit.
Die man van die melkwinkel langsaan het toe ook uitgekom en straat-op en straat-af gekyk om te kyk wat de hel aangaan.
Gelukkig
het als rustig en vreedsaam stil geword daarna. Ek het half-en-half die
polisie verwag maar Elsie het darem gou kalmeer.
No comments:
Post a Comment