ELEKTRISITEIT OP DIE PLATTELAND
Het jy al elektrisiteit gehoor? Ek het. Nee, regtig.
As
jy langs een van Eskom se groot staal torings staan en jy druk jou oor
teen die koue staal, hoor jy so 'n sagte " zzzzzzzzzz" geluid. Miskien
is dit die gevolg van die vibrasie van die lang metaalgeleiers tussen
die torings wat veroorsaak word deur die windjie. Ek weet nie.
Maar ek het 'n tannie geken wat elektrisiteit kon sien.
Sy
het net langs die munisipale swembad in Winburg gebly. Op die erf aan
die anderkant van haar erf het een van die groot staal torings gestaan.
My
neef Koos was stadsklerk op Winburg. Ek moet erken ek weet vandag nog
nie wat STADSklerk op klein plattelandse dorpie doen nie, behalwe dat
Neef Koos elke Maandag-oggend dié tannie moes kalmeer.
Daars
probleme met die elektriese kabels langs haar huis. Elke Sondag as sy
van die kerk af kom, kon sy sien hoe drup die elektrisiteit van die
kabels af op haar heining. Uit vrees vir skok, moes sy dan haar yster
hekkie met 'n stokkie oopmaak. Kan die stadsraad nie asseblief iets doen
aan die probleem nie?
Ds.
Reynecke het my aangeneem en ek ken hom. Hy was baie kalm en besadig en
ek dink nie die kerk het iets te doen gehad met haar visioene nie.
Dit
het vir 'n paar weke aangegaan en toe het dit opgehou tot Neef Koos se
verligting. (Wat hy toe daarna gedoen het om sy salaris te verdien, weet
ek nie).
Ek glo daar is nog baie ou dierbare mense op die platteland wat nog soortgelyke ondervindings het.
Dit gebeur met die ouderdom en eensaamheid saam.
O ja, die munisipale swembad het ook gegrens aan die "ou" begraafplaas.
No comments:
Post a Comment