KUL JOU HIER; KUL JOU DAAR.
Hulle sê oom Swannie het nooit 'n steek werk in sy lewe gedoen nie - alhoewel hy een van die rykste mense op Winburg was.
Sy
huis was een van die eerstes wat 'n "Amerikaanse" kombuis gehad het wat
mens soms in tydskrifte gesien het. Vóór die middel 1960's, min of
meer, het huise mos spense gehad waar die bulk van die kos in wit meel
sakke en en Consul bottels gebêre was. Meel en suiker was in 20 liter
blikke gestoor. Die tannies het dan 'n losstaande kombuiskas gehad waar
al die breekware en messe-goed en kleiner houers met konfyt, koffie, ens
gebêre was. 'n "Amerikaanse" kombuis is maar wat ons almal deesdae het.
Ek
sal nooit oom Swannie se motor vergeet nie. So 'n plat, rooi gedoente
met sulke opstaan vlerke weerskante van die reuse kattebak. Breë, wit
ringe het die bande versier. Ek dink dit was 'n Plymouth, maar kan nie
my kop op 'n blok sit nie. Toe hy die motor in Bloemfontein gaan haal
het, was daar blykbaar net drie in die land.
Hoe hy ooit sy hoë lewensstyl op 'n wettige wyse kon regverdig sonder dat hy werk gehad het, weet ek nie.
Oom
Swannie het met diamante gesmokkel. Almal het dit geweet en hy het dit
blykbaar nooit ontken nie. Niemand kon hom egter ooit vang nie. Dit was
eers jare nadat hy opgehou smokkel het, dat sy geheim vir sukses bekend
geword het.
Theunissen,
Winburg se buurdorp, het in daai dae van die land se produktiefste
diamantmyne gehad en oom Swannie het blykbaar gereeld Theunissen-toe
gery.
Winburg
se golfbaan van hard gerolde gruis is (was?) aan die Noorde kant van
die dorp net langs die kaasfabriek. (Al die klein dorpies het mos daai
dae kaasfabrieke gehad. Ek dink groter dorpe en stede soos Kroonstad en
Bloemfontein was te ver om melk na aan te ry. ) Langs die golfbaan se
hek het 'n groot peperboom gestaan en dis waar oom Swannie sy diamante
tydens sterk skemer vir harde kontant omgeruil het. Nêrens anders nie.
Talle male het speurders van waar-ookal hom probeer betrap by die boom,
maar hy was net te slim vir hulle. Sy tegniek was eintlik lagwekkend
eenvoudig en dis miskien hoekom hy so suksesvol was.
Oom
Swannie het 'n laaang rekkie gehad - van dié wat jy destyds in 'n
golfballetjie gekry het. Een punt van die rekkie was bo in die boom
vasgemaak en die ander punt aan die sakkie vasgemaak waarin die
diamante gehou was en wat oom Swannie in sy hand gehou het. Hy het altyd
maar gesorg dat hy heelwat vroeër as sy kliënte by die boom opgedaag
het.
Wanneer
die onderhandeling begin het, was hy seker uiters senuweeagtig en
wakker. Die oomblik as hy onraad bemerk, het hy die sakkie laat los en
die sakkie met die steentjies het dan opgeskiet in die boom in. Weg is
die bewyse, Watse diamante? Dis dan net die speurders wat sit met 'n
klomp geld.
Ek
dink hierdie tegniek het later ook op ander plekke posgevat, of die
regsdienaars het slim geword maar oom Swannie het geweet wanneer om op
te hou en het tot sy heengaan in luuksheid geleef sonder dat hy ooit 'n
steek "werk" gedoen het.
No comments:
Post a Comment