Tuesday, November 3, 2020

VRUGTESTEEL

Dit was om-en-by 1962 toe John Gary nog die tragiese liedjie gesing het van Kathleen, Charles Jacoby het gesing van die bere in die Drakensberge, die Gunter Kallmann koor het vir Elisabeth 'n serenade gesing en almal ook aan hulle lippe gehad het met La Montenara. En natuurlik Daan Desimaal die Rand-Sent man. En Al Debbo se Hasie.

Maar ek het my besig gehou met Die Uile, Die Swart Luiperd, Rooi Jan en, natuurlik, die Patrys.

Die Patrys was dié tydskrif vir tieners daai dae. Boonop kon jy, as jy vir hulle 'n sjieling/tien sent posorder stuur, registreer as 'n Patrysspeurder! Jy het 'n sertifikaat ontvang asook 'n geelkoper doppie-ding wat jy aan jou skoolbaadjie se lapel kon vassteek. Op die doppie was daar gedruk: PATRYSSPEURDER. Die uitgewers het toestemming verkry by die owerhede dat hulle speurders wel die wapen op skoolklere mag dra. Op die sertifikaat wat jy saam gekry het, was gedruk dat die polisie graag inligting van patrysspeurders sal ontvang oor misdade. As jy dié doppie gedra het, het jy gevoel die polisie is jou pêlle, man! (In daai dae het die polisie nog respek afgedwing.)

Ek was in die laerskool se koshuis op Zastron, Suid-Oos Vrystaat, seker so standerd 3 of 4. Die koshuis was geleë teen 'n koppie op die rand van die dorp en die reëling was dat ons elke Woensdag, nà studietyd dorp-toe kon gaan om koeldrank te drink, skryfbehoeftes te koop, ens.

En so gebeur dit dat 'n groepie van ons een Woensdag verby oom Koos Kan se vrugteboord stap op pad na ou Apostel se kafee-toe.

Oom Koos was 'n fanatiese tuinier en sy vrugteboord het so-te-sê geblink van netheid. Die perskes het soos liggeel en pienk diamante gehang aan die goed versorgde bome. 'n Mens het onwillekeurig gaan staan en vir 'n paar oomblikke gestaar na die vrugte "uit die Hemel".

Tannie Malhuis wat, die koshuis se kos gekook het, se kos was nie altyd ewe lekker nie. (Dit was regtig haar bynaam. 'n Baie onregverdige bynaam het ek jare later besef, sy was einlik maar dierbaar. Behalwe as die hoërskoolseuns daai swart kaliumgoed aan haar slaapkamerdeur se handvatsel gesmaaer het wat so ontplof as jy daaraan vat. Dan, veral, was die kos vir 'n paar dae kurkdroog en soms bietjie verbrand. )

Ongelukkig was dit weer die geval met die kos daardie Woensdag-aand. In plaas van in die bed te wees het vyf of ses van ons buite in die donkerte se skadu's op die grasperk gelê en ons lot oor die kos betreur. Ek onthou dit was 9-uur die aand want die dorp se sIrene het soos elke aand afgegaan wat 'n sein was dat slegs blankes nou in die dorp mag wees.

"Ek gaan 'n kussingsloop haal" het kamermaat Spantou gesê.

"Hoekom?" hoor ek Seekoei vra.

"Ek is lus vir oom Koos se perskes".

"Ja, ek ook".

Spantou het 'n onwrikbare wil gehad. Dis seker hoekom sy pa hom altyd met 'n spantou pakslae gegee het. As hy eers 'n plan gehad het, was hy soos 'n geleide missiel. Niks staan in sy pad nie.

En so, van boom tot boom, en bewapen met twee kussingslope, sluip ons in die donker berg-af na oom Koos Kan se erf-toe.

Fout nommer een.

In hemelsnaam, as jy gaan vrugte steel, doen dit na 12 in die nag. Nie net na 9 uur nie! Die jongste episode van die "Du Plooys van Soetmelksvlei" het skaars klaar gemaak op die draadloos en almal is nog op.

By die erf aangekom, klouter ons versigtig oor die jakkalsdraadheining terwyl Seekoei wagstaan buite op die sypaadjie. Soos sy naam impliseer, was ou seekoei nie maer nie maar nie dis nie eintlik waar die bynaam vandaan gekom het nie. Die arme outjie het 'n bolip gehad wat so lank was soos die kerksaal se verhooggordyn, met kort hare en bypassende klein pienk ogies. 'n Seekoei uitgeknip. Maar 'n hart so groot soos Aasvoëlberg self.

Tjoepstil en versigtig trek ons takke laer en pluk ons perskes vir die kussingslope.

Onverwags breek 'n tak.

"Tjips" sê iemand saggies. Ons vries. Spantou staan doodstil met 'n tak in sy hand.

Skielik gaan die agterstoep se lig aan en oom Koos verskyn, flits in die hand.

Die ligkol swaai links en regs tot die verblindende wit lig op ons val.

"Julle bliksems!" bulder 'n stem. Ons wag nie meer nie en vlieg oor die heining soos die Vaalbokke op die plaas se Graskoppe.

Seekoei is nêrens te sien nie. Hy't nie te lank kywie gehou nie voordat sy senuwees ingegee het hy teruggesluip koshuis-toe.

Mens kan nie daarby verbykom nie. Gesteelde vrugte is darem heerlik. Veral as jy dit die volgende dag by die skool kan eet saam met Tannie Mahuis se half-droë grondboontjiebotter-toebroodjie.

En dis waar fout nommer twee begaan word. Moet nooit tydens lang pouse by die dorpsjapies spog met jou vars vrugte nie. Hulle weet daar is nie vrugtebome by die koshuis nie.

Na middagete by die koshuis, net voor mnr Nel, die koshuisvader dank sê vir Tannie Malhuis se kos, sê hy:

" 'n Paar van julle het gisteraand gaan vrugte steel by oom Koos Kan se boord. Hy het gisteaand gebel en hy sê julle het sy bome beskadig. "

Ek voel hoe word my ore warm.

Hy hou 'n stukkie papier omhoog.

" Ek het al julle name. " sê hy.

" Julle moet nou buite op die trappe gaan wag vir die polisie. Ek het hulle gebel en hulle op pad. As die polisie jou naam op die lys sien, en jy is nie daar nie, het jy ernstige polisieprobleme."

Ek dink my huidige hartprobleme het daardie dag al begin. Buite op die trappe is my mond kurkdroog en ek sluk swaar. Ons hou die pad van die dorp-af angstig dop. En ons wag. Hande in die sakke. want hulle bewe. Die ander koshuiskinders staan op 'n afstand vir ons en kyk.

"My oom 's 'n poeliesman, Weet jy wat doen hulle? " sê iemand saggies.

Ons weet nie.

"Hulle trek jou kaal uit. Dan span hulle jou oor 'n drom. Dan gooi hulle jou nat. Dan slaan hulle jou met 'n rottang."

Liewe Vader. ek wou dit nie gehoor het nie!

Net toe kom die koshuisvader uit.

"Die polisie is te besig. Hulle kan nie kom nie. Maar meneer Pellissier wag vir julle. Gaan sien hom. Nou"

Dis nie noodwendig goeie nuus nie. Hoekom ons juis na hom toe gestuur was sou later duidelik word.

Sam Pellissier was die koshuisvader van die hoërskoolseuns se koshuis. 'n Ewe beeld van die huidige Dwayne Johnson. 'n Blok van 'n man. Kort hare en voorarms soos boomstompe. Hulle het altyd gesê as jy ses van die bestes by hom gekry het, en jy's binne drie dae gesond genoeg om terug te wees by die skool is jy wragtag "tough".

Die hoërskoolkoshuis was so 100 meter van ons koshuis af en ons kon van ver af sien hy wag in sy deur met 'n rottang in die hand.

Ek was eerste en gaan alleen in sy woonstel in. In sy voorkamer van die woonstel vra hy vir my:

"Dink jy wat jy gedoen het was reg?"

"Nee, meneer."

"Dink jy jy verdien om gestraf te word ?"

Ek sluk swaar.

" Ja, meneer"

"Buk"

Hy gee my twee tikkies op my boude met die rottang. Ek wag vir die pakslae.

"Jy kan maar gaan"sê hy.

Ek staan regop en staar na hom.

Hy glimlag vir my.

"Wag vir my buite"

Ek is totaal uit die veld geslaan.

"Goed, meneer, dankie, meneer" sê ek op pad uit.

Toe almal "deurgeloop"het kom mnr Pellissier uit en roep ons nader. Almal is in 'n beter bui.

Ek kan nie onthou wat hy als gesê het nie maar die volgende sal ek nooit vergeet nie:

"Om Koos het my gisteraand gebel. Hy het nie geweet of dit koshuiskinders was nie en ons het nooit die polisie gebel nie, hoor. Maar onthou asseblief, julle, as mens iets nodig het en jy kan dit kry of bekostig nie, is dit nie nodig om dit te steel nie. Oom Koos vra dat julle hom kom vra as julle perskes wil hê. Hy sal altyd bereid wees om vir julle te gee. Moenie steel nie. Moenie sy bome beskadig nie. Sal julle dit onthou?"

"Ja, meneer"

"Omdie waardheid te sê, ek dink julle behoort terug te gaan en hom om verskoning te vra. Wat dink julle? "

"Ja, meneer"

Ons het nooit teruggegaan nie en ek is tot vandag toe nog spyt daaroor. Dit maak selfs nog bietjie seer - meer as wat 'n loesing van mnr Pellissier sou.

Maar ek het die grootste respek vir Sam Pellissier en oom Koos Kan gekry.

Ek het ook nooit weer die Patrysspeurder wapen gedra nie.

(Naskrif: Die Pellissier-familie het later baie bekend geword vir die bydra wat hulle gedoen het tot die onderwys en skoolsport in die Vrystaat).

 

No comments:

Post a Comment