Pierre Henning - Stories
Tuesday, November 3, 2020
NOMMER ASSEBLIEF?
Nota: Ek het dié storie verskeie kere gehoor en het geen rede om te dink dis nie waar nie
Voor ons outomatiese telefone gekry het, het die plattelandse telefoonstelsel gewerk soos op die illustrasie hieronder, (As ek sê "outomatiese" bedoel ek daai fone met die ronde skyf met die gate in waarin jy jou vinger moes druk en die skyf dan moes "dial" )
Die lyne tussen dorpe was "hooflyne" genoem en het die sentrales van elke dorp met mekaar verbind.
Die vertakkings uit die hooflyne was "plaaslyne"genoem.
Die vertakkings uit die plaaslyne het na die onderskeie plaashuise-toe gegaan.
As ek iemand in Kroonstad wou bel, moes ek eers my sentrale bel en 'n "hooflynoproep"bespreek vir, sê maar, 6-uur vanaand. Jy moes ten minste 'n uur of twee voor die tyd jou oproep bespreek. (Tensy dit doodsake was maar dan was dit baie duurder en ander gebruikers moes afgegooi word deur die sentrale- tannie om jou dringende oproep te kan akkomodeer.)
Omtrent 10 - 15 plase deel so 'n plaaslyn wat beteken dat enige iemand op daai plaaslyn kan inluister as jy met jou meisie in. bv. Kaapstad praat. As jy met iemand praat en jy hoor 'n sagte, subtiele "kliek" in die agtergrond dan weet jy iemand anders op jou plaaslyn het nou ook opgetel en is besig om in te luister. Dit was gewoonlik die ou tannies op die plase wat niks gehad het om te doen nie, en na skindernuus soek, wat die skuldiges was.
Oud Staatspresident Advokaat Blackie Swart se skoonma het by hulle gebly op die plaas in die Winburgdistrik en almal het geweet sy's 'n ou oortreder.
Oom Faan Transport en sy buurman wat 'n plaaslyn met oom Blackie Swart gedeel het, besluit toe eendag genoeg is genoeg.
Soos afgespreek bel oom Faan die ander boer. Hulle praat oor "dit"en "dat"en wag.
Skielik n sagte "kliek".
Oom Faan sê hard en duidelik:
"Het jy gehoor, Piet, Blackie sleep nou skelm vlerk by tant Sus?"
Hy sê vir 'n paar oomblikke wat die doodstil to skree die tannie:
"DIT LIEG JY!"
Skielik besef sy blykbaar wat aangaan en gooi die gehoorstuk terug op die mikkie.
Daarna, sê oom Faan, het hulle vrede gehad.
-
VRUGTESTEEL Dit was om-en-by 1962 toe John Gary nog die tragiese liedjie gesing het van Kathleen, Charles Jacoby het gesing van die bere i...
-
WATERSKILPAAIE EN KLASSIEKE MUSIEK Tot vandag toe kan ek nie kleinkry hoe 'n kenner en aanhanger van Caruso en Maria Callas stink wa...
-
OM TE KAN SIEN Na al die jare onthou ek, om een-of-ander rede die tannie se naam. Tannie Babs. Die vriendelikheid en warmte vanself. Dis m...