Tuesday, November 3, 2020


 OUPA WAT HET JY GEMAAK?
 
Vandat my oom Tokkie my van die insident in die Winburg se begraafplaas vertel het, het ek begin oplet na die doen late van die grootmense in die dorp.
Maar eers die begraafplaas storie.
Die "ou" begraafplaas is deesdae half in die dorp. Regoor die straat van die vrymesselaars se losie.
Daar word gesê dat Winburg die oudste dorp in die Vrystaat is. Dit maak die begraafplaas seker ook die oudste in die Vrystaat.
Synde half in die die dorp te wees, moes die munisipaliteit maar toesien dat dit in 'n goeie toestand gehou word. Dit is (was?) nogal 'n spoggerige plek. Marmer engele wat stip met wit, dooie oë staar na die half-skewe sandsteen randstene om die grafte. Geroeste gietyster kruise wat half vasgegroei is in die peperbome.
En dan was daar die Shniehage-familie se mausoleum. Niemand weet eintlik meer wat die geskiedenis van die familie was nie, behalwe dat almal laat die 1800' oorlede is. My oupa was die grofsmit op die dorp en het blykbaar die staaldeur van die mausoleum gemaak.
Dit was omtrent 1960 toe die munisipaliteit my oom Man bel. Sal hy asseblief gaan kyk wat fout is met die mausoleum se deur. Die ketting is af geroes en die deur staan half oop. Oom Man het die grofsmitbesigheid oorgeneem by my oupa wat jare gelede reeds oorlede is. Oom man stuur toe vir oom Tokkie, wat vir my oom Man werk, om die deur te gaan regmaak.
Oom Tokkie het maar altyd redelik maklik geskrik oor hy so bygelowig was.
Oom Tokkie sê sy nekhare het al klaar begin regop staan toe hy die begraafplaas se skreeuende hekkie oopmaak. Nadat hy 'n paar oomblike gestaan en die mausoleum betrag het, het hy versigtig nader gegaan.
Versigtig, en teen sy beterwete het hy stadig die deur oopgetrek en huiwerig ingeloer.
Hy sê dit was asof iemand hom teen sy agterkop met 'n ploegskaar geslaan het. (Een van sy werkies by smitswinkel was om boere se ploegskare skerp te maak). Dit hom 'n paar sekondes geneem om te verwerk wat hy voor hom gesien het.
Net aan die binnekant van die deur het 'n geraamte op die vloer gelê. Stukke witterige lap.
Aan die binnekant van die deur het die res van die witterige lap van 'n haak aan die binnekant van die deur gehang.
Oom Tokkie het nie juis 'n doktorsgraad in filosofie gehad nie, maar hy kon baie gou uitwerk watse toneel hom daar afgespeel het - miskien 'n paar dae nadat die mausoleum se deur finaal toegemaak was. Die deur was blykbaar taamlik dik en sekerlik klankdig.
Die Ford Falcon se bande het heelpad huistoe op die gruis strate gespin. Hy was direk huistoe.
Oom Man het toe maar iemand anders gestuur om die slot en ketting te vervang en die faktuur by die munisipaliteit gaan inhandig.
Hy't gedink dis miskien maar beter om nie te praat nie.Dit kon dalk net allerhande stories en ondersoeke tot gevolg hê.
Maar my vraag is: Wat het Oupa besiel om 'n haak aan die binnekant van die deur aan te bring?

ELEKTRISITEIT OP DIE PLATTELAND
 
 
Het jy al elektrisiteit gehoor? Ek het. Nee, regtig.
As jy langs een van Eskom se groot staal torings staan en jy druk jou oor teen die koue staal, hoor jy so 'n sagte " zzzzzzzzzz" geluid. Miskien is dit die gevolg van die vibrasie van die lang metaalgeleiers tussen die torings wat veroorsaak word deur die windjie. Ek weet nie.
Maar ek het 'n tannie geken wat elektrisiteit kon sien.
Sy het net langs die munisipale swembad in Winburg gebly. Op die erf aan die anderkant van haar erf het een van die groot staal torings gestaan.
My neef Koos was stadsklerk op Winburg. Ek moet erken ek weet vandag nog nie wat STADSklerk op klein plattelandse dorpie doen nie, behalwe dat Neef Koos elke Maandag-oggend dié tannie moes kalmeer.
Daars probleme met die elektriese kabels langs haar huis. Elke Sondag as sy van die kerk af kom, kon sy sien hoe drup die elektrisiteit van die kabels af op haar heining. Uit vrees vir skok, moes sy dan haar yster hekkie met 'n stokkie oopmaak. Kan die stadsraad nie asseblief iets doen aan die probleem nie?
Ds. Reynecke het my aangeneem en ek ken hom. Hy was baie kalm en besadig en ek dink nie die kerk het iets te doen gehad met haar visioene nie.
Dit het vir 'n paar weke aangegaan en toe het dit opgehou tot Neef Koos se verligting. (Wat hy toe daarna gedoen het om sy salaris te verdien, weet ek nie).
Ek glo daar is nog baie ou dierbare mense op die platteland wat nog soortgelyke ondervindings het.
Dit gebeur met die ouderdom en eensaamheid saam.
O ja, die munisipale swembad het ook gegrens aan die "ou" begraafplaas.

 

KUL JOU HIER; KUL JOU DAAR.
 
Hulle sê oom Swannie het nooit 'n steek werk in sy lewe gedoen nie - alhoewel hy een van die rykste mense op Winburg was.
Sy huis was een van die eerstes wat 'n "Amerikaanse" kombuis gehad het wat mens soms in tydskrifte gesien het. Vóór die middel 1960's, min of meer, het huise mos spense gehad waar die bulk van die kos in wit meel sakke en en Consul bottels gebêre was. Meel en suiker was in 20 liter blikke gestoor. Die tannies het dan 'n losstaande kombuiskas gehad waar al die breekware en messe-goed en kleiner houers met konfyt, koffie, ens gebêre was. 'n "Amerikaanse" kombuis is maar wat ons almal deesdae het.
Ek sal nooit oom Swannie se motor vergeet nie. So 'n plat, rooi gedoente met sulke opstaan vlerke weerskante van die reuse kattebak. Breë, wit ringe het die bande versier. Ek dink dit was 'n Plymouth, maar kan nie my kop op 'n blok sit nie. Toe hy die motor in Bloemfontein gaan haal het, was daar blykbaar net drie in die land.
Hoe hy ooit sy hoë lewensstyl op 'n wettige wyse kon regverdig sonder dat hy werk gehad het, weet ek nie.
Oom Swannie het met diamante gesmokkel. Almal het dit geweet en hy het dit blykbaar nooit ontken nie. Niemand kon hom egter ooit vang nie. Dit was eers jare nadat hy opgehou smokkel het, dat sy geheim vir sukses bekend geword het.
Theunissen, Winburg se buurdorp, het in daai dae van die land se produktiefste diamantmyne gehad en oom Swannie het blykbaar gereeld Theunissen-toe gery.
Winburg se golfbaan van hard gerolde gruis is (was?) aan die Noorde kant van die dorp net langs die kaasfabriek. (Al die klein dorpies het mos daai dae kaasfabrieke gehad. Ek dink groter dorpe en stede soos Kroonstad en Bloemfontein was te ver om melk na aan te ry. ) Langs die golfbaan se hek het 'n groot peperboom gestaan en dis waar oom Swannie sy diamante tydens sterk skemer vir harde kontant omgeruil het. Nêrens anders nie. Talle male het speurders van waar-ookal hom probeer betrap by die boom, maar hy was net te slim vir hulle. Sy tegniek was eintlik lagwekkend eenvoudig en dis miskien hoekom hy so suksesvol was.
Oom Swannie het 'n laaang rekkie gehad - van dié wat jy destyds in 'n golfballetjie gekry het. Een punt van die rekkie was bo in die boom vasgemaak en die ander punt aan die sakkie vasgemaak waarin die diamante gehou was en wat oom Swannie in sy hand gehou het. Hy het altyd maar gesorg dat hy heelwat vroeër as sy kliënte by die boom opgedaag het.
Wanneer die onderhandeling begin het, was hy seker uiters senuweeagtig en wakker. Die oomblik as hy onraad bemerk, het hy die sakkie laat los en die sakkie met die steentjies het dan opgeskiet in die boom in. Weg is die bewyse, Watse diamante? Dis dan net die speurders wat sit met 'n klomp geld.
Ek dink hierdie tegniek het later ook op ander plekke posgevat, of die regsdienaars het slim geword maar oom Swannie het geweet wanneer om op te hou en het tot sy heengaan in luuksheid geleef sonder dat hy ooit 'n steek "werk" gedoen het.

 

OM TE KAN SIEN
 
Na al die jare onthou ek, om een-of-ander rede die tannie se naam. Tannie Babs. Die vriendelikheid en warmte vanself. Dis miskien hoekom ek haar onthou.
Haar oë het met die jare só agteruit gegaan dat sy nie nie meer haar Bybel kon lees nie. Dit het haar eindeloos gefrustreer en bedruk gemaak.
Ek het 'n niggie by name "Meisie" in Winburg gehad. Sy was 'n paar jaar ouer as ek en 'n baie mooi mens in alle opsigte. Haar voorkoms het nogal herinner aan Jacqueline Bisset.
Sy het haar toe ontferm oor tannie Babs en haar Bloemfontein-toe gevat vir oogtoetse. Dit was nogal 'n omvattende uittog want in daai dae het die pad gegaan oor Bellspas en Brandfort. Die pad deur die Vrystaat soos ons dit vandag ken, was nog nie eers 'n droom nie.
'n Ruk later is die twee weer terug Blooemfontein-toe om die bril te gaan haal.
Dit was een van daai brille mat so 'n halfmaantjie aan die onderkant van die lense, sê Meisie.
Sy sê die heelpad huistoe het tannie Babs die bril opgesit en rondgekyk vir 'n rukkie; dan die bril afghaal en haar kop geskud. Dan weer die bril opgesit. Die oë was dik van trane. Meisie s'n ook.
Die volgende Sondag was sy in die kerk met die bril. En hét sy gesíng, hoor.
Die Maandag sien Meisie vir tannie Babs in die Afrikaanse Handelshuis, langs Volkskas.
Tannie Babs sonder haar bril.
"Nou waar's die bril dan, Tannie?" Uit die aard van die saak was Meisie baie bekommerd.
"Nee, dis Maandag."
"Ja?"
"Ek dra die bril net op Sondae. Ek is bang die bril raak te gou "op"gekyk. Wat doen ek dan? Ek wil nooit weer so halfblind wees nie"
Nouja. Dis hoe ek dit onthou. Natuurlik kan ek nie na 50 jaar presies die dialoog onthou nie, maar ek stel my voor dis hoe dit sou gewees het.
Dit is ook 'n ware "storie".

 

DIE AAP: OU-PRESIDENT CR SWART
 
Ontspan, dis nie wat ek bedoel nie.
Oom Blackie Swart, ons eerste Staatspresident se plaas was tussen Winburg en Brandfort.
Hy het baie by my oom Man, wat die smitswinkel in Winburg gehad het gekom en om hulp aangeklop. Soos om iets te prakseer wat warm water by oom Blakie se melkery kon voorsien sodat die werkers hulle hande kon was voor hulle begin melk het. Oom Man het toe voorendag gekom met 'n baie effektiewe masjien wat druppende ou olie verbrand het en nogal na 'n vuurpyl gelyk en geklink het.
Op 'n dag stap oom Blackie weer by die smitswinkel in. Hy het 'n bietjie van 'n probleem synde staatpresident te wees, verduidelik hy vir oom Man. Sy plaas se naam is mos De Aap.
Die naambordjie van sy plaas langs die hoofpad lyk so:
De Aap
C.R. Swart
Dis nie baie vlyend nie, het oom Backie gedink.
Ruil jy dit om, lyk dit só:
C.R. Swart
De Aap
Help nie juis veel nie.
Kan oom Man dalk aan 'n plan dink?
Nadat hulle gedink en kopgekrap het vir 'n geruime tyd,was die enigste oplossing maar om "C.R. Swart" alleen op die bordjie te hê.
Die publiek hoef mos nie te weet wat die plaas se naam is nie.
En so het oom Man 'n nuwe naambord vir Staatpresident CR Swart gemaak.

 


MY EERSTE EN LAASTE VUURPYL
 
Toe ek op hoërskool was, was ek maar taamlik alleen. My oudste broer was in Tukkies en my ander broer was eers in die vloot en later in Paul Roux by die magistraatskantoor. Ek het moeilik vriende gemaak.
'n Kliniese sielkunde het baie jare later vir my gesê ek sien myself nooit as deel van 'n groep nie. Always on the outside looking in. Ek dink hy was baie reg.
My grootste vriend in daai dae was Die Afrikaanse Kinderinsiklopedie.
Dit was my Google.
Die hele wêreld was opgesluit in die 10 volumes van die insiklopedie.
En dis waar ek gelees het hoe om buskruit te maak. Ek ken nie meer die verhoudings nie maar dis 'n mengsel van salpeter, fyn gemaakte houtskool ( of suiker) en blomswael. Maklik en vrylik beskikbaar.
Dis die mengsel wat ek sou gebruik as brandstof vir my vuurpyl. Of só het ek gedink.
Ons het destyds in 'n "semi-detached" huis gebly in Voortrekkerstraat in Winburg. Sien aangehegte foto ter illustrasie. (Ons huisie was egter baie meer beskeie). 'n Ou tannie en haar 5 jarige kleindogter het in die huis langs ons gebly. Stil, besadigde mense. Die twee identiese huise het 'n gemeenskaplike fasademuur aan die straat se kant gehad . Agter die muur, en tussen die huise was daar 'n een meter spasie. Dit het 'n lang, daklose gang tussen die huise gevorm wat aan die straat se kant toegebou was. Die ideale toetsterrein vir 'n missiel.
Ek het 'n oufietspomp halfpad gevul met die poeierbrandstof. (Ek sien NASA noem dit "solid fuel".)
Vir die neus van die vuurpyl het ek 'n stok in die groot oop kant van die pomp ingedruk.
Ek het die vuurpyl versigtig op twee bakstene geplaas sodat die neus wys in die rigting van die gang se toe kant. Vir 'n lont het ek 'n stukkie papier V-vormig gevou en 'n strokie buskruit ingegooi. Die "lont" het styf teen die klein gaatjie gepas waar mens die rubber pypie sou inskroef as jy 'n wiel wil pomp.
Bietjie senuweeagtig steek ek die lont aan die brand.
Dis moelik om te verduidelik. Stel jou voor 'n weerligstraal slaan die grond een meter van jou af. Dit was 'n helse slag en ligflits.
Dit was 'n pypbom.
Onmiddelik het die dogertjie langsaan histerie begin gil en huil. Ek kon letterlik hoor hoe die ouma in die huis hardloop en skree: "Elsie! Elsie!, waar is jy"! Sy moes gedink het dis armageddon.
Ek het vinnig om die huis gehardloop en ewe onskuldig op die voorstoep gaan sit.
Die man van die melkwinkel langsaan het toe ook uitgekom en straat-op en straat-af gekyk om te kyk wat de hel aangaan.
Gelukkig het als rustig en vreedsaam stil geword daarna. Ek het half-en-half die polisie verwag maar Elsie het darem gou kalmeer.

 


WATERSTOF BALLONNE.
 
Toe ek op hoërskool in Winburg was, was daar nie goed soos Skeinat of Chemie of Meganika of Fisika nie. Dit was bloot "Wetenskap"
Ons weteskaponderwyser, Kallie het ons gewys hoe om waterstof te maak met zink en swaelsuur.
Dit het my verbeelding aangegryp en moes verder ondersoek word, het ek gedink.
Zink kon mens nog uit flitsbatterye kry (baie min) , maar swaelsuur was buite bereik.
Alternatiewe wat vir my gewerk het was aluminium foelie en seepsoda.
Kry 'n 5 liter glasbottel (meer beskikbaar as plastiek in daai dae), gooi 'n paar gefrommlde stukkies foelie in die bottel, koppie water en 'n paar vlokkies seepsoda. Wag 'n paar sekondes en bind 'n plastieksakkie oor die bek van die bottel. Die sakkie blaas op en dan bind jy dit toe en laat dit gaan.
Dis uiters bevredigend om te sien hoe jou waterstofballon op en op gaan tot dit oor die horison verdwyn. Omdat daar redelik suurstof gemeng is met die waterstof, maak dit nogal 'n lekker knal as jy 'n brandende vuurhoutjie op die ballon gooi voordat die te hoog is. Mooi blou vlam.
Maar soos die Engelsman sê "Go big or go home"
My ma het op 'n stadium getrou en ons het na 'n plaas-toe getrek, so 25 km buite Winburg. Dis waar ek begin het met die waterstof ballone.
Ek wou graag probeer om die ballon te laat ontplof as die so 30 meter bo die grond is. Soos vuurwerke.
Maar dit is so dat die ontploffing dalk mense sal laat skrik, so ek het my installasie ver van die huis-af geskuif tot anderkant die hoenderhokke. Ons het omtrent 50 lê-hoenders gehad.
Soos die plastieksak begin opvul het met waterstof, het ek 'n lang lyntjie met paraffien klam gemaak en dit aan die ballon vasgemaak.
Toe ballon vol genoeg was, het ek dit laat gaan en die onderste punt van die toutjie aan die brand gesteek. Soos beplan het die vlam die ballon bereik so 15 meter bo die grond.
Dit was 'n besondere harde en mooi ontploffing.
Reg bo die hoenderhokke.
'n Hoender is mos 'n snaakse ding. Hulle kry die horries as 'n vreemde ding bo hulle in die lug verby beweeg. Toe die ballon nog boonop ontplof met 'n blou vlam, is die hel los in die hoenderhokke. Stof en vere en 'n gekekkel dat jou ore tuit.
Die stupid goed het vir 1 week nie gelê nie en die gebrek aan eiers wat verkoop sou word, het nogal 'n invloed op die plaas se kontantvloei gehad.
Ek was taamlik in die moeilikheid en verdere soortgelyk eksperimente was summier verbied.

 

'n DRAMA WAT TOE NIE WAS NIE
 
Voor die dae van die 4 provinsiale streeksrade vir uitvoerende kunste, SUKOVS, TRUK, NAPAC en KRUIK, was die professionele akteurs, ens maar oorgelewer aan hulle eie inisiatief om 'n bestaan te maak en die plattelandse publiek te vermaak.
Min-of-meer 3 keer per jaar het een of ander toergeselskap die plattelandse dorpies besoek en 'n opvoering aangebied in die stadsaal. Hierdie opvoerings was uiters gewild onder die dorpies se inwoners en omgewing se boere.
Die toergeselskap het sy eie "props" en toerusting saamgery en hulle eie stukke geskryf om op te voer. Klankstelsels was ongehoord en die akteurs en aktrises moes baie hard praat om hoorbaar te wees in die sale wat nie met akoestiese eienskappe in gedagte ontwerp was nie. Dit was nogal OK want dit het 'n baie spesiale atmosfeer en karakter aan die opvoerings gegee.
Dis waar ek in die Winburgse stadsaal die eerste keer vir Al Debbo in lewende lywe gesien het. (Nadat hy blykbaar die hele middag in die Fords Hotel se kroeg saam met manne gekuier het).
Baie ander latere bekende akteurs en -trises het só 'n lewe gemaak. Ek mag verkeerd wees, maar ek dink dis hoe Wena Naudé begin het.
Ek en my ma het altyd die optredes bygewoon.
Een só 'n Saterdagaand het ons opgedress en stadsaal-toe gestap. Die show sou 8 uur begin. Dit was bietjie vreemd dat dit redelik stil was, maar ons het maar kaartjies by die deur gekoop en plekke op die harde hout opvoustoele gaan inneem.
Dit was amper 8-uur en ons was eerste daar.
Teen 8-uur was ons nog steeds eerste daar.- en alleen
Ek het gesien hoe die gordyne op 'n skrefie oopgaan en iemand van die verhoog af vir ons loer.
Kwart-oor 8 was ons nog steeds alleen.
Wéér loer iemand deur die skrefie vir ons.
Teen half-nege gaan die sykant van die gordyn oop en iemand klim van die verhoog af met die sytrappe en kom nader.
Die man is swaar opgemaak en kom staan met sy hande nederig gevou voor ons.
Ag, hy is só jammer maar dit lyk of ons die enigste toeskouers vir die aand is. Dit gaan baie moelik wees om die program vir net 2 mense op te voer. Sal ons vreeslik omgee om maar huistoe te gaan? Hulle sal ons geld by die deur vir ons teruggee.
Dit was baie teleurstellend maar ons het die arme mense baie jammer gekry. Hulle moes nog steeds die huur van die saal betaal ook.
Hoekom dit gebeur het dat niemand anders opgedaag het nie, weet ek nie.
Kort daarna het SUKOVS begin met hulle toere - volledig toegerus met fancy beligting en klankstelsels.
Die romanse van die toergeselskappe was iets van die verlede.
Soos ou Lee Marvin in "Paint your wagon" gesê het:
They civilise left and they civilise right, till nothing is left and nothing is right.

 

 

OUTYDSE HARDE POLITIEK
 
Toe ek op hoërskool was op Winburg, kon ek presies sê wie NAT ( HF Verwoerd) en wie SAP (Sir de Villiers-Graaf) gestem het in die dorp of omgewing.
Die dorp is in 1837 gestig en is die oudste dorp in die Vrystaat. (Die Groot Trek was in 1830?)
Die NG Kerk (Klipkerk) is kort daarna gebou en in die middel van die dorp langs die stadsaal.
Gedurende die 1940's of 1950's het dinge in die kerk begin skeef loop. Op Sondae, vóór kerk, en ná kerk, wou die NAT gemeentelede en SAP gemeentelede mekaar begin bliksem in die straat. Dit het begin uitgebrei na die kerkraad en na weeksdae binne-in Volkskas en die Afrikaanse Handelshuis.
Die kerkraad besluit toe om maar af te stig en die NAT kerk op 'n ander plek te loop bou om die vrede te probeer bewaar.
Só is die Rietfontein kerk en gemeente naby die skool gestig en gebou. Dis waar ons gemeentelede was - nie omdat ons kwaad was vir die SAPPE nie - die kerkgebou was reg oor die straat van ons huis. Om die waarheid te sê ons was polities absoluut neutraal en geduldig.
Synde 'n klein dorpie te wees, weet mens mos wie is in dié kerk en wie is in dáái kerk. Dis hoe jy weet wie is 'n SAP en wie is 'n NAT. Maklik.
Maar die kwade gevoelens het maar nog by enkele gemeentelede bly voort bestaan, soos tannie Theunissen. Ja, 'n vrou nogal. Sy was 'n SAP. Klipkerkgemeente.
Ons het mos die die ordentlikheid om te sê 'n vrou is "groot" as ons eintlik bedoel sy is vet. Tannie Theunissen was net plain freaken' vet. Sy het oorlogskip vir 'n kar gehad. Ek dink dit was 'n Plymouth of so-iets, maar gróót. Ek dink jy kon 'n sitkamerstel in sy kattebak inpas.
Sy het die gewoonte gehad om die strate op en af te cruise met haar kar en moeilikheid te soek. Haar venster deur se venster was altyd oop en haar vet regterarm het altyd heeltemal by die venster uitgehang. Soos 'n boomstomp. Só het sy stadig op en af gery en almal aangegluur, op soek na 'n argument. Ek dink Mnr Kleynhans, die magistraat, het omtrent net haar sake gehanteer. Kyk haar net effens skeef aan, dan dagvaar sy jou. Sy was veral lief vir politieke argumente. SAP teen NAT konfrontasies.
Eendag, laatmiddag, stap ek huistoe van Kaplan se kafee af en ek sien haar stadig aangery kom. Toe sy naderkom hurk ek om te kyk om te kyk of my skoenveters darem nog goed vas is. Ek was aan die anderkant van die straat maar uit die hoek van my oog sien ek sy hou stil reg langs my. Ek kyk stadig op na haar vet gesig.
Sy gluur my aan "Wat kyk jy?" brom sy.
Sy kon seker nie 'n argument optel voor sononder nie en het frustrasies op my probeer uithaal.
Ek het maar almal se raad gevolg en my mond gehou en verder gestap.
Blêddie SAP. Tipies.


 

 

NOMMER ASSEBLIEF?


Nota: Ek het dié storie verskeie kere gehoor en het geen rede om te dink dis nie waar nie

Voor ons outomatiese telefone gekry het, het die plattelandse telefoonstelsel gewerk soos op die illustrasie hieronder, (As ek sê "outomatiese" bedoel ek daai fone met die ronde skyf met die gate in waarin jy jou vinger moes druk en die skyf dan moes "dial" )

Die lyne tussen dorpe was "hooflyne" genoem en het die sentrales van elke dorp met mekaar verbind.

Die vertakkings uit die hooflyne was "plaaslyne"genoem.

Die vertakkings uit die plaaslyne het na die onderskeie plaashuise-toe gegaan.

As ek iemand in Kroonstad wou bel, moes ek eers my sentrale bel en 'n "hooflynoproep"bespreek vir, sê maar, 6-uur vanaand. Jy moes ten minste 'n uur of twee voor die tyd jou oproep bespreek. (Tensy dit doodsake was maar dan was dit baie duurder en ander gebruikers moes afgegooi word deur die sentrale- tannie om jou dringende oproep te kan akkomodeer.)

Omtrent 10 - 15 plase deel so 'n plaaslyn wat beteken dat enige iemand op daai plaaslyn kan inluister as jy met jou meisie in. bv. Kaapstad praat. As jy met iemand praat en jy hoor 'n sagte, subtiele "kliek" in die agtergrond dan weet jy iemand anders op jou plaaslyn het nou ook opgetel en is besig om in te luister. Dit was gewoonlik die ou tannies op die plase wat niks gehad het om te doen nie, en na skindernuus soek, wat die skuldiges was.

Oud Staatspresident Advokaat Blackie Swart se skoonma het by hulle gebly op die plaas in die Winburgdistrik en almal het geweet sy's 'n ou oortreder.

Oom Faan Transport en sy buurman wat 'n plaaslyn met oom Blackie Swart gedeel het, besluit toe eendag genoeg is genoeg.

Soos afgespreek bel oom Faan die ander boer. Hulle praat oor "dit"en "dat"en wag.

Skielik n sagte "kliek".

Oom Faan sê hard en duidelik:

"Het jy gehoor, Piet, Blackie sleep nou skelm vlerk by tant Sus?"

Hy sê vir 'n paar oomblikke wat die doodstil to skree die tannie:

"DIT LIEG JY!"

Skielik besef sy blykbaar wat aangaan en gooi die gehoorstuk terug op die mikkie.

Daarna, sê oom Faan, het hulle vrede gehad.


 

WATERSKILPAAIE EN KLASSIEKE MUSIEK


Tot vandag toe kan ek nie kleinkry hoe 'n kenner en aanhanger van Caruso en Maria Callas stink waterskilpaaie soos hamburgers kon eet nie.

My oom Man se innemende, warm persoonlikheid het van hom 'n populêre lid van Winburgse gemeenskap gemaak. As hy in die Winburgse koerantjie adverteer dat hy waterskilpaaie soek om te eet, het die boere op Vrydae, as hulle hul kinders by die koshuis kom haal het vir die naweek, vir hom aangedra. Sakke vol.

Op Saterdae het hy vir sy familie in Winburg 'n braai gehou. Dan het ons en oom Tokkie-hulle lekker skaaptjops, steaks en braaibroodjies geëet en hy het 'n waterskilpad of twee geëet.

Die smitswinkel, wat hy by my oupa oorgeneem het, het van hom 'n redelike welgestelde man gemaak. Maar hy het hard gewerk en het altyd "uit die boks" gedink. Op 'n stadium was daar 'n lang droogte in die Vrystaat toe ontwerp en bou hy 'n kerwer wat garingboomblare opkerf vir beesvoer. Deur die Lanbouweekblad het hy honderde verkoop.

Die vlamme en hitte van die smitswinkel se vlam het sy dik voorarms se vel so taai soos skoensole gemaak. Ons het eenkeer gestaan en kyk hoe 'n muskiet omtrent sy rug breek om sy angel in oom Man se voorarm in te kry. Die muskiet het later opgegee en op my nefie se voorkop gaan sit waar oom Man dit doodgeslaan het. My nefie amper ook.

Hy kon baie musiekinstrument bespeel insluitende die saksofoon en saag-viool, maar sy claim to fame was dat hy enige lied op die aambeeld kon uittokkel met twee hamers. Ek het dit self nooit gesien nie ek weet nie hoe hy dit reggekry het om 2 of meer verskillende note uit 'n aambeeld te kry nie, maar hy het.

Ek het baie gehou van my oom Man. Dis in sy huis waar ek die eerste keer 'n Hi-Fi gesien en gehoor het. Dis by hom waar ek gesien het hoe mens orgidiëe en Cyclamens kweek vir die kommersiële mark.

Dis net die waterskilpaaie, man. Maar hier is vir jou 'n resep in elk geval.

Sit die waterskilpad, soos hy uit die water gekom het, op die grond neer. Verkieslik moet hy dood wees.

Gooi 'n halwe sak stronke oor hom uit en steek aan die brand.

Los vir 2 ure en hom krap die ding uit die as uit sodat dit kan afkoel

Kry 'n kampstoeltjie en maak jou gemaklik.

Breek die gereg oop soos 'n hamburger en geniet.

As daar eiers binne is, byt 'n gaatjie en suig/slurp uit.

Maar wees gewaarsku: 'n waterskilpad se verdedigingsmeganisme is sy pie. 'n Muishond se reuk kom nie naby nie. Dis die mees walglike reuksensasie wat jy kan ervaar. Maak nie saak hóé gaar die ding is nie, die reuk kleef steeds. En die vleis proe daarna. Vir ure proe jy die reuk.

Ek het eenkeer 'n klein stukkie witvleis van 'n voorpoot probeer eet maar het summier agter die naaste bloekomboom gaan kots.

Maar ek het my oom Man sy skilpadvleis gegun.

Hy kon maar.

 

VRUGTESTEEL

Dit was om-en-by 1962 toe John Gary nog die tragiese liedjie gesing het van Kathleen, Charles Jacoby het gesing van die bere in die Drakensberge, die Gunter Kallmann koor het vir Elisabeth 'n serenade gesing en almal ook aan hulle lippe gehad het met La Montenara. En natuurlik Daan Desimaal die Rand-Sent man. En Al Debbo se Hasie.

Maar ek het my besig gehou met Die Uile, Die Swart Luiperd, Rooi Jan en, natuurlik, die Patrys.

Die Patrys was dié tydskrif vir tieners daai dae. Boonop kon jy, as jy vir hulle 'n sjieling/tien sent posorder stuur, registreer as 'n Patrysspeurder! Jy het 'n sertifikaat ontvang asook 'n geelkoper doppie-ding wat jy aan jou skoolbaadjie se lapel kon vassteek. Op die doppie was daar gedruk: PATRYSSPEURDER. Die uitgewers het toestemming verkry by die owerhede dat hulle speurders wel die wapen op skoolklere mag dra. Op die sertifikaat wat jy saam gekry het, was gedruk dat die polisie graag inligting van patrysspeurders sal ontvang oor misdade. As jy dié doppie gedra het, het jy gevoel die polisie is jou pêlle, man! (In daai dae het die polisie nog respek afgedwing.)

Ek was in die laerskool se koshuis op Zastron, Suid-Oos Vrystaat, seker so standerd 3 of 4. Die koshuis was geleë teen 'n koppie op die rand van die dorp en die reëling was dat ons elke Woensdag, nà studietyd dorp-toe kon gaan om koeldrank te drink, skryfbehoeftes te koop, ens.

En so gebeur dit dat 'n groepie van ons een Woensdag verby oom Koos Kan se vrugteboord stap op pad na ou Apostel se kafee-toe.

Oom Koos was 'n fanatiese tuinier en sy vrugteboord het so-te-sê geblink van netheid. Die perskes het soos liggeel en pienk diamante gehang aan die goed versorgde bome. 'n Mens het onwillekeurig gaan staan en vir 'n paar oomblikke gestaar na die vrugte "uit die Hemel".

Tannie Malhuis wat, die koshuis se kos gekook het, se kos was nie altyd ewe lekker nie. (Dit was regtig haar bynaam. 'n Baie onregverdige bynaam het ek jare later besef, sy was einlik maar dierbaar. Behalwe as die hoërskoolseuns daai swart kaliumgoed aan haar slaapkamerdeur se handvatsel gesmaaer het wat so ontplof as jy daaraan vat. Dan, veral, was die kos vir 'n paar dae kurkdroog en soms bietjie verbrand. )

Ongelukkig was dit weer die geval met die kos daardie Woensdag-aand. In plaas van in die bed te wees het vyf of ses van ons buite in die donkerte se skadu's op die grasperk gelê en ons lot oor die kos betreur. Ek onthou dit was 9-uur die aand want die dorp se sIrene het soos elke aand afgegaan wat 'n sein was dat slegs blankes nou in die dorp mag wees.

"Ek gaan 'n kussingsloop haal" het kamermaat Spantou gesê.

"Hoekom?" hoor ek Seekoei vra.

"Ek is lus vir oom Koos se perskes".

"Ja, ek ook".

Spantou het 'n onwrikbare wil gehad. Dis seker hoekom sy pa hom altyd met 'n spantou pakslae gegee het. As hy eers 'n plan gehad het, was hy soos 'n geleide missiel. Niks staan in sy pad nie.

En so, van boom tot boom, en bewapen met twee kussingslope, sluip ons in die donker berg-af na oom Koos Kan se erf-toe.

Fout nommer een.

In hemelsnaam, as jy gaan vrugte steel, doen dit na 12 in die nag. Nie net na 9 uur nie! Die jongste episode van die "Du Plooys van Soetmelksvlei" het skaars klaar gemaak op die draadloos en almal is nog op.

By die erf aangekom, klouter ons versigtig oor die jakkalsdraadheining terwyl Seekoei wagstaan buite op die sypaadjie. Soos sy naam impliseer, was ou seekoei nie maer nie maar nie dis nie eintlik waar die bynaam vandaan gekom het nie. Die arme outjie het 'n bolip gehad wat so lank was soos die kerksaal se verhooggordyn, met kort hare en bypassende klein pienk ogies. 'n Seekoei uitgeknip. Maar 'n hart so groot soos Aasvoëlberg self.

Tjoepstil en versigtig trek ons takke laer en pluk ons perskes vir die kussingslope.

Onverwags breek 'n tak.

"Tjips" sê iemand saggies. Ons vries. Spantou staan doodstil met 'n tak in sy hand.

Skielik gaan die agterstoep se lig aan en oom Koos verskyn, flits in die hand.

Die ligkol swaai links en regs tot die verblindende wit lig op ons val.

"Julle bliksems!" bulder 'n stem. Ons wag nie meer nie en vlieg oor die heining soos die Vaalbokke op die plaas se Graskoppe.

Seekoei is nêrens te sien nie. Hy't nie te lank kywie gehou nie voordat sy senuwees ingegee het hy teruggesluip koshuis-toe.

Mens kan nie daarby verbykom nie. Gesteelde vrugte is darem heerlik. Veral as jy dit die volgende dag by die skool kan eet saam met Tannie Mahuis se half-droë grondboontjiebotter-toebroodjie.

En dis waar fout nommer twee begaan word. Moet nooit tydens lang pouse by die dorpsjapies spog met jou vars vrugte nie. Hulle weet daar is nie vrugtebome by die koshuis nie.

Na middagete by die koshuis, net voor mnr Nel, die koshuisvader dank sê vir Tannie Malhuis se kos, sê hy:

" 'n Paar van julle het gisteraand gaan vrugte steel by oom Koos Kan se boord. Hy het gisteaand gebel en hy sê julle het sy bome beskadig. "

Ek voel hoe word my ore warm.

Hy hou 'n stukkie papier omhoog.

" Ek het al julle name. " sê hy.

" Julle moet nou buite op die trappe gaan wag vir die polisie. Ek het hulle gebel en hulle op pad. As die polisie jou naam op die lys sien, en jy is nie daar nie, het jy ernstige polisieprobleme."

Ek dink my huidige hartprobleme het daardie dag al begin. Buite op die trappe is my mond kurkdroog en ek sluk swaar. Ons hou die pad van die dorp-af angstig dop. En ons wag. Hande in die sakke. want hulle bewe. Die ander koshuiskinders staan op 'n afstand vir ons en kyk.

"My oom 's 'n poeliesman, Weet jy wat doen hulle? " sê iemand saggies.

Ons weet nie.

"Hulle trek jou kaal uit. Dan span hulle jou oor 'n drom. Dan gooi hulle jou nat. Dan slaan hulle jou met 'n rottang."

Liewe Vader. ek wou dit nie gehoor het nie!

Net toe kom die koshuisvader uit.

"Die polisie is te besig. Hulle kan nie kom nie. Maar meneer Pellissier wag vir julle. Gaan sien hom. Nou"

Dis nie noodwendig goeie nuus nie. Hoekom ons juis na hom toe gestuur was sou later duidelik word.

Sam Pellissier was die koshuisvader van die hoërskoolseuns se koshuis. 'n Ewe beeld van die huidige Dwayne Johnson. 'n Blok van 'n man. Kort hare en voorarms soos boomstompe. Hulle het altyd gesê as jy ses van die bestes by hom gekry het, en jy's binne drie dae gesond genoeg om terug te wees by die skool is jy wragtag "tough".

Die hoërskoolkoshuis was so 100 meter van ons koshuis af en ons kon van ver af sien hy wag in sy deur met 'n rottang in die hand.

Ek was eerste en gaan alleen in sy woonstel in. In sy voorkamer van die woonstel vra hy vir my:

"Dink jy wat jy gedoen het was reg?"

"Nee, meneer."

"Dink jy jy verdien om gestraf te word ?"

Ek sluk swaar.

" Ja, meneer"

"Buk"

Hy gee my twee tikkies op my boude met die rottang. Ek wag vir die pakslae.

"Jy kan maar gaan"sê hy.

Ek staan regop en staar na hom.

Hy glimlag vir my.

"Wag vir my buite"

Ek is totaal uit die veld geslaan.

"Goed, meneer, dankie, meneer" sê ek op pad uit.

Toe almal "deurgeloop"het kom mnr Pellissier uit en roep ons nader. Almal is in 'n beter bui.

Ek kan nie onthou wat hy als gesê het nie maar die volgende sal ek nooit vergeet nie:

"Om Koos het my gisteraand gebel. Hy het nie geweet of dit koshuiskinders was nie en ons het nooit die polisie gebel nie, hoor. Maar onthou asseblief, julle, as mens iets nodig het en jy kan dit kry of bekostig nie, is dit nie nodig om dit te steel nie. Oom Koos vra dat julle hom kom vra as julle perskes wil hê. Hy sal altyd bereid wees om vir julle te gee. Moenie steel nie. Moenie sy bome beskadig nie. Sal julle dit onthou?"

"Ja, meneer"

"Omdie waardheid te sê, ek dink julle behoort terug te gaan en hom om verskoning te vra. Wat dink julle? "

"Ja, meneer"

Ons het nooit teruggegaan nie en ek is tot vandag toe nog spyt daaroor. Dit maak selfs nog bietjie seer - meer as wat 'n loesing van mnr Pellissier sou.

Maar ek het die grootste respek vir Sam Pellissier en oom Koos Kan gekry.

Ek het ook nooit weer die Patrysspeurder wapen gedra nie.

(Naskrif: Die Pellissier-familie het later baie bekend geword vir die bydra wat hulle gedoen het tot die onderwys en skoolsport in die Vrystaat).

 

Rugprobleme.

Aug 2018

Andrée het mos nou 'n rugprobleem "opgetel." Een-of-ander senuwee in haar rug gee probleme wat intense pyn in die regterbeen (soms links) veroorsaak. Een van die kussinkies tussen rugwerwels het effens uitgeskuif. Sy het Maandag 'n inspuiting "lumber epidural block" in haar rug gekry en ons hou duimvas dit gaan werk, anders beteken dit 'n groot operasie.Ons sal seker teen die naweek weet.

Die eienaardige ding van die "sciatica" probleem is dat sy nie kan lê nie. Of liewers as sy lê, mag sy nie roer nie. Kan dan nie opstaan voor sy nie pynpille gedrink het nie en dan vat dit nog so 40 minute om vertikaal uit die bed te kom met die hulp van my krukke. Sy vind dat die beste manier om "aan die gang" te kom is dan om agteruit te sukkel-sukkel met die krukke. Dan moet ek maar eenkant staan - een been en al. Gelukkig kan sy koffie maak op 'n "normale" manier. Nie agter haar rug nie. Na omtrent 'n halfuur uit die bed uit is die rug weer normaal en kan sy haar stappies doen strand toe en selfs die gebruiklike "Park-run" op Saterdae.

Gelukkig het die Ortopediese Chirurg haar Maandag-oggend eerste laat kom na die operasiesaal-toe. Omtrent 8vm al. Sy het geweier om in die hospitaalbed na die operasiesaal-toe gestoot te word en het sommer gang-af gestap tot die skok van die nurses, ens. Jy weet mos hoe lyk die operasie-jurkies. Heeltemal oop agter.

Ek het saam gestap en was baie dankbaar dat sy darem nie agteruit op haar voete die operasie-saal ingesukkel het nie. Ek dink nie die assistente, Narkotiseer, ens wat alreeds in die teater was, sou dié sig kon hanteer nie.

Sover, na die inspuiting, is sy bietjie beter maar ons hoop van harte dat 'n operasie nie nodig gaan wees nie. Maar as dit al is wat sal help vir die pyn - dan moet dit.

 

LOU en MAMPOER (ongeveer 2016)


In groter sentra's kan mens sê "Hierdie dorp het ... (soveel)... pubs"

In Pringlebaai is die definisie van 'n "pub" nie so maklik nie. Hier is tien (10) plekke waar jy kan "ontspan".

Een van die plekke is die "Head Office".

Dis waar ek vanaand vir Lou en Mampoer ontmoet het. Toevallig gaan sit ek langs hulle se baas.

My naam is "Sonop" sê die langharige man langs my. Hy kyk reguit voor hom. Dis Sonop se honde - Lou en Mampoer.

Lou is 'n moerse groot kruising tussen 'n Rottweiler en Doberman.

Mampoer is 'n volbloed Boerboel. Langerige stert.

Lou en Mampoer se baas sê vir my, " Mens spreek sy naam uit "Loe" nie "Lou" nie. Hy hou nie van "Lou" nie."

Die freakin hond staar na my.

Hello "LOE" sê ek en stoot die blikbeen in sy rigting. Mens weet nooit nie....

Maar Mampoer, die Boerboel, kyk ook na my en swaai sy stert - effens - en dan weer effens..

As 'n hond kon glimlag was dit sekerlik 'n glimlag.

Sonop gooi sy dreadlocks eenkant en sê "Nice nê Oom."

"Mampoer die Boerboel is reggemaak Oom. Hy ruik net blomme heeldag, Oom. Hy hou van Erica blomme Oom."

Ek kyk na Sonop.

"Hy's weird, bro" sê ek .

"Oom?"

"'n Boerboel moet mense eet - nie "freakin" blomme ruik nie .... BRO"

Mampoer hou my deurentyd op. En dan gaan lê hy met sy kop op sy voorpote soos honde maar doen . Vakerige oë kyk na my. Vir 'n oomblik dan lig hy sy kop en kyk na Sonop.

Sonop staan op om toilet - toe te gaan. (Hoe het Mampoer geweet?)

Mampoer staan ook op. Sy stert swaai.

Sonop - sien ek - het net en been soos ek . Ek is sprakeloos.

En dan sien ek Sonop soek-soek en vat-vat na sy wit stokkie.

En Mampoer kyk na my en swaai-swaai sy stert.

En dis wanneer ek DANKIE sê vir ten minste een been.

 

I CRIED ALL THE WAY TO THE BANK

So in 1973 toe ek nog 'n snotkop student was, kom ek te hore van die novelle "A twist of sand" geskryf deur Geoffrey Jenkins. Hy was 'n Britse Oorlog korrespondent vir die Britse koerant die Morror (of so iets)

Ek verorber die boek. En koop al sy boeke beskikbaar. En verorber hulle ook. Baie soos die stories van Alistair McClaen (Spel?).

Ek kan nie onthou nie , maar ek kom toe agter hy bly in. Waterkloof, Pta

My hande bewe van senuagtigheid toe ek hom bel en vra ek ek hom kan besoek.

Die Saterdag daag ek en my "girlfriend" (Andrée Crosby) by sy huis in Waterkloof op.

Wat 'n wonderlike mens. Hy neem ons op 'n "toer" deur sy studeerkamer en wys ons in hoeveel tale sy boeke al vertaal was.

Maar, o, donner sy Basset hond stink. Kon skaars asemhaal.

Hy was ook getroud met met Eve Palmer (Wêreld beroemd vir haar boek "The plains of the Kamdeboo") (en outeur van verskeie Botaniese boeke) Ons het dit nie eers geweet op daai stadium nie - alhoewel ons haar boeke gelees het..

( MOET LEES - veral as mens lief is vir die Karoo en bome)

Hy het toe al sy boeke wat ek saamgebring het vir my "geteken"

Hoe het hy die verliming van "A Twist Of Sand" gevind?

"I cried all the way to the bank" sê hy.

Ons het die movie ook gesien en ek simpatiseer met hom.

Wat 'n wonderlike mens.

Maar dis waar ek geleer het dat ons is almal "mense" soos jyself.

Ek treasure sulke memories en deel dit graag.

Voorbeeld van sy handtekening in een van sy boeke aangeheg.


 

 

KOSBARE MEMORIES


10 julie 2017


En dan is daar die storie oor hoekom en my been gebreek het op Anton se plaas by Hennopsriver..

Dit was darem nie die "been" nie maar die voet. Of toon.

Wat 'n onvergeetlike aand.(Iewers in 1988 omtrent)

Ons los al die land se probleme op - sommer daar en dan., bra

Sommer so om die kareehoutvuur, bra..Daar waar ons vroeër die middag die kobraslang verwiilder het. uit die dekrgas uit;

Ons maak vuur tussen die "cottage" en die huis. Net skuins onder die Ateljee waar ek die voorreg gehad het om die "rehearsals" van "Winde van verandering" te sien..

(Ai ek smag na daai dae)

Later die aand ontwikkel ek 'n behoefte om te piepie.

Stap eenkant toe.

Toe ek stap is daar niks,

Afgrond..

2m meter afgrond..Na die Hennopsrivier toe

Lang storie kort:

Ek het nounog die X-Ray wat wys dat my toon gebreek was

"n Week later na my val het Anton 'n show voor omtrent 5000 mense by die Willem Prinsloo Museum naby' Cullinan.

Ek huppel aan met krukke om te luister.

Anton stop toe hy "Waterblommetjies" sing EN toe hy my sien aankom.

"Ontmoet vir Pierre" sê hy Hy hou op met sing en gaan voort: "Pierre het 3 dae gelede van die plaas verdwyn en ons het hom vanoggend onder 'n Wag-n-bietjie boom (boom van wysheid ) gevind..

10 Duisend oë kyk na my. Ek en my gipsbeen

Daar is geen manier hoe mens sulke vriendskap kan vervang nie.